Meer plaaslike musiek op SAUK
2012-02-02 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – Plaaslike kunstenaars, onder wie Afrikaanse musikante, gaan nou ’n groter platform by die SAUK hê.
Die openbare uitsaaier het sy samewerking met die Vereniging van Onafhanklike Opnamemaatskappye in Suid-Afrika (Airco) gister op ’n nuuskonferensie in Johannesburg aangekondig.
Airco sal musiekvideo’s van plaaslike kunstenaars aan die SAUK verskaf om die uitsaaier se plaaslike inhoud ’n hupstoot te gee.
In ruil daarvoor sal hulle ’n bedrag by die SAUK kry wat deur die departement van kuns en kultuur betaal sal word.
Mnr. Paul Mashatile, minister van kuns en kultuur, het gesê hulle steun die samewerking ten volle. Hy wou egter nie nou al sê hoeveel dit gaan kos nie.
Me. Lulama Mokhobo, nuwe groephoof van die SAUK, het die ondertekening van die ooreenkoms as ’n historiese gebeurtenis beskryf.
Volgens Mashatile kan die bekendstelling van plaaslike kunstenaars op lang termyn ook ’n positiewe invloed op die land se ekonomie hê.
Mnr. Mandla Maseko, Airco se direkteur van bemarking en kommunikasie, het sy woord gegee dat Afrikaanse kunstenaars ook by die ooreenkoms sal baat vind.
Die musiekvideo’s sal eers as deel van bestaande programme uitgesaai word en in September, wanneer die SAUK se oorskakelingsproses na digitale terrestriële televisie (DTT) voltooi is, sal nuwe programme daarvoor geskep word.
- Volksblad