Marginalisering van Afrikaans bekommer
2012-02-02 22:32
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
WELKOM. – Die marginalisering van Afrikaans as ’n inheemse taal in die voorgestelde nasionale taalwet is nie net vir Afrikaanssprekendes nie, maar vir talle Suid-Afrikaners ’n groot probleem
Dr. Victor Moeketsi, senior dosent in kommunikasie-wetenskappe op die Welkom-kampus van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, sê as jy ’n taal doodmaak, vermoor jy die spreker en vernietig jy die kultuur van daardie mens.
“Sonder kultuur is die mens soos ’n boom sonder wortels.”
Dié taalkundige sê hy glo elke taal is belangrik “want ons leef in ’n taalkundige milieu”.
“Alle tale is belangrik, want taal maak dit vir ons moontlik om die wêreld om ons te beskryf en te verstaan.
“Indien jou taal gevaar loop om uitgewis te word, sal jy idiome en gesegdes verloor wat deel van jou daaglikse lewe is. Jy sal ook moreel verval.”
Moeketsi is ’n toegewyde dosent wat al genooi is om referate in Los Angeles, Wes-Kalifornië, Griekeland, Spanje, Botswana, Lesotho en Swaziland te lewer.
Mnr. Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep, waarsku die marginalisering van Afrikaans as ’n inheemse taal in die voorgestelde wet is nie goeie nuus vir Afrikaans nie.
“Die voorgestelde 2011-wetsontwerp stel voor dat minstens twee amptelike tale deur die regering gebruik moet word. Tydens die onlangse openbare parlementêre sessies oor die wet was daar verskeie bekommernisse dat minstens twee tale nie voldoende is nie en dat minstens drie amptelike tale in die wet ingeskryf moet word.
“Die departement van kuns en kultuur het hulle voorstel nou wel verander na drie tale toe, maar spesifiek bygevoeg dat twee van die drie tale dan ‘inheemse tale met histories ingekorte gebruik en status’ moet wees.
“Dit kom neer op die flagrante uitsluiting van Afrikaans. Dit beteken die inkorting van bestaande regte wat miljoene Suid-Afrikaners benadeel,” sê Gouws.
Hy erken dat die praktiese implementering van die taalregte soos in die Grondwet vervat, moeilik is, maar meen dat daar opgehou moet word om bestaande regte weg te neem. “Ons moet met mekaar saamwerk om die mees werkbare en haalbare maniere te kry en te ontwikkel om die breë Suid-Afrikaanse samelewing se taalregte te bevorder.
“Die ATKV is van mening dat een Nguni-taal, een Sotho-taal, Afrikaans en Engels oor die langer termyn die mees praktiese benadering gaan wees. Ons moet almal saamwerk en goedgesindhede gebruik om die uitdaging aan te pak.
“Die taalverskeidenheid in Suid-Afrika is een van ons nasionale bates en ons kan nie toelaat dat dit aanhoudend ingekort word nie.”
- Volksblad