Man tref BMW, boom by skool
2012-02-03 22:00
’n BEJAARDE man het gister met sy Mitsubishi Pajero teen ’n boom voor ’n laerskool in Bloemfontein vasgery, nadat hy in ’n verkeersirkel beheer oor sy voertuig verloor het.
Volgens ooggetuies het mnr. Isak Myburgh (70) in die verkeersirkel langs die Laerskool Willem Postma vir ’n wit Mazda-bakkie uitgeswaai.
Myburgh het beheer oor sy voertuig verloor, het die ooggetuies gesê.
Dit het teen ’n stilstaande BMW gebots en toe die boom getref.
Die ongeluk het skuins ná 13:00 gebeur, pas nadat die gr.1’s en -2’s uitgekom het en voordat die res van die klasse verdaag het
Toe die beskadigde Pajero ten aanskoue van ouers en kinders weggesleep is, het ’n ouer gesê dit is ’n genade dat nie ’n enkele skoolkind seergekry het nie..
Mnr. Rhyno Kriek, een van die bekommerde ouers, sê hy en dié skool het al verskeie kere die munisipaliteit gevra om die sirkel te beveilig, omdat die sirkel verwarring vir motorbestuurders bring en dit naby twee skole geleë is.
Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, het gesê ’n klag van roekelose en nalatige bestuur word ondersoek.
- Volksblad