Ma, dogter op plaas aangeval
2012-02-15 22:34
PRETORIA. – Aanvallers het ’n plaasvrou minstens tien keer met ’n mes in haar hande gesteek om haar mes by haar af te neem.
Hulle het mev. Reinetha Venter (59) se bloeiende hande toe agter haar lyf vasgebind en haar en haar dogter, René (27), ’n uur lank aangehou.
Toe hulle weg is en die polisie sowat twee uur later opdaag, moes Venter sr. die beamptes probeer oortuig dat dit ’n huisrooftog was en nie ’n inbraak nie.
“Die polisie het heeltyd gesê dit is huisbraak,” het sy gister gesê.
“Ek het aanhoudend gesê dit is ’n plaasaanval. Toe vra hulle hoekom is ek op my hande gesteek en of ek my mes teen hulle (die rowers) wou gebruik. Natuurlik wou ek. As ek ’n vuurwapen gehad het, sou ek hulle geskiet het.
“Dis asof hulle (die polisie) my wou blameer vir die voorval.”
Venter sr. is kol. Gawie Alberts, stasiebevelvoerder van die Villieria-polisiekantoor in Pretoria, se suster.
Sy en haar dogter bly alleen op ’n plaas sowat 30km van Modjadjiskloof (Duiwelskloof).
Ná haar man se dood twee jaar gelede moes sy sy vuurwapens in veilige bewaring sit. Sy het ook haar vuurwapen in veilige bewaring geplaas omdat sy verlede jaar grotendeels oorsee was.
Venter sr. het Sondagaand omstreeks 20:45 televisie gekyk toe sy ’n groot slag hoor. Haar dogter het in haar kamer geslaap.
“Ek het die slag gehoor en gewonder wat dit is. Daar was weer ’n slag en toe is hulle binne die huis,” het Venter sr. gesê.
Venter jr. het weens die slag uit haar kamer gekom. Sy en haar ma is tot op die bank gedwing. “Ek het ’n messie wat ek altyd by my dra, uitgepluk. Een het dit gesien en my hande vol gate gesteek om die mes by my te kry,” het Venter sr. gesê.
“Ek het heeltyd gebid ons bly kalm.”
Die twee vroue se hande en voete is vasgebind.
Venter jr. het haar ma die hele tyd gevra of sy oukei is. Hul gepraat het die vier aanvallers omgekrap.
Venter jr. is in die toilet toegemaak en haar ma is opgetel en kamer toe gedra.
“Die leier van die groep was aggressief. Maar as hy weg was, het die ander vir my gevra of ek oukei was,” het Venter sr. gesê.
Ná sowat ’n uur is die aanvallers weg met selfone, elektroniese ware, juwele en Venter sr. se motor.
Venter jr. het haar losgewikkel, haar ma losgemaak en met haar selfoon, wat vroeër die aand van haar bedkassie afgeval het, die bure gebel.
Die bure het die Modjadjiskloof-polisiekantoor gebel, maar niemand het die foon geantwoord nie. Uiteindelik is die Soekmekaar-polisie in die hande gekry wat hul Modjadjiskloof-kollegas laat weet het. Dié het sowat twee uur later opgedaag. Die polisie het vier verklarings by Venter sr. geneem waartydens sy “alles tien keer moes herhaal”.
“Hulle kon nie skryf of my verstaan nie. Ek het uiteindelik gesê ek het genoeg gehad en dokter toe gegaan,” het sy gesê.
Lt.kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het gesê die motor is Maandag uitgebrand naby die huis gekry.
Volgens Otto sal die polisie Venter se klagtes oor die beamptes ondersoek.
- Volksblad