MK-veterane ‘verklaar oorlog’ teen Magashule
2012-02-03 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE veterane van die ANC se voormalige militêre vleuel, Umkhonto weSizwe (MK), het oorlog teen mnr. Ace Magashule, Vrystaatse premier en die ANC se provinsiale voorsitter, verklaar.
Die MK-veterane in die Motheo-streek het in ’n skerp bewoorde verklaring teen Magashule te velde getrek oor uitlatings wat hy teen die beweging gemaak het en sy geskiktheid as premier én ANC-leier bevraagteken.
Die premier het op ’n ANC-byeenkoms om die party se eeufeesfakkel in Bloemfontein te verwelkom, te velde getrek teen lede wat hom glo as voorsitter wil ontsetel.
Magashule het gesê slegs die provinsiale uitvoerende komitee óf verkose leiers mag ANC-lede in takvergaderings toespreek. Daarmee is lede van MK se monde gesnoer.
Mnr. Mpho Ramaratsa, die MK se streekvoorsitter, het Magashule se uitlatings teenoor die Volksblad as “lagwekkend, onvolwasse, onverantwoordelik en ongevraag” bestempel.
“Sulke uitlatings is verdelend en kan die faksiegevegte, wat die ANC sukkel om in bedwang te bring, verder aanhits .
“Magashule waardeer en verstaan nie die rolle wat die verskillende strukture in die party speel nie,” het Ramaratsa gesê.
Hy het in ’n verklaring ook gesê Magashule se roekelose verklarings plaas ook sy geskiktheid om aan die hoof van sowel die ANC as die regering in die Vrystaat te bly onder verdenking.
Ingeligtes in die party beskou dit as van die eerste skote in die geveg om die voorsitterskap wat in Junie beslis gaan word.
Mnr. Gregory Nthathisi, oud-LUR en MK-voorsitter in die Vrystaat, is een van die sterkste kandidate wat teen Magashule te staan kan kom. Nóg ’n sterk teenstander is die party se sekretaris-generaal in die provinsie, mnr. Sibongile Besani.
Ramaratse sê Magashule gedy met vuil en intimiderende taktiek om die demokratiese proses te vertrap en die openbare debat in die party te onderdruk.
“Dienslewering is swak en die korrupsievlakke onaanvaarbaar.”
Hy het gesê dit is tyd dat Maga-shule herinner word dat slegs ’n deursigtige, verantwoordelike, onselfsugtige en rotsvaste leier die ANC in die Vrystaat uit die stormsee kan stuur.
Mnr. William Bulwane, die ANC se woordvoerder in die Vrystaat, het na wat berig word geweier om hom direk oor die MK se aanval uit te laat.
Volgens hom moet die oud-soldate partyprosedure volg om hul griewe te lug.
- Volksblad