Krisis staar VS, NK in gesig
2010-06-24 04:13
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Vrese oor moontlike lewensverlies weens die kritieke tekort aan opgeleide verpleegsters in die Vrystaat en Noord-Kaap neem toe.
Verskeie skrywers in Volksblad se briewekolom het gister dié vrees uitgespreek.
Die tekort aan verpleegsters lei tot werkery van dubbelskofte.
Wedersydse beskuldigings en bekgevegte tussen onder andere geneeshere en verpleegsters – in een geval selfs ’n vuisgeveg – is deel van die twis oor wat die ware oorsake is van dié dreigende krisis waarop gesondheidsdienste in die twee provinsies afstuur.
Volgens belanghebbendes is die dubbelskofte deur verpleegsters die hoofoorsaak van die probleem.
Die nypende tekort in die bedryf skep geleentheid vir ekstra werk vir bestaande verpleegsters, wat daartoe bydra dat hulle oorwerk is. Verpleegsters verkies die ekstra werk om hul relatief swak salarisse aan te vul.
Suster Veronica Fransman-Hendricks, provinsiale sekretaris van die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika (Denosa) in die Vrystaat, sê die tekort het ’n negatiewe invloed op dienslewering. Die skuld hiervoor word op verpleegsters gepak.
“Reeds moeë verpleegsters doen afloswerk by ander hospitale, wat tot uitbranding en meer frustrasie lei.”
Dokters wat anoniem met Volksblad gepraat het, het die dubbelwerkery van verpleegsters skerp veroordeel.
By navraag het dit geblyk die Medi-Clinic-hospitale in die Noord-Kaap en Vrystaat het in 2009 sowat 25800 aflos-verpleegsters gebruik.
Mnr. Carl Bührmann, bestuurder van die Bloemfontein-Medi-Clinic, sê dié hospitale – in Bloemfontein, Kimberley, Welkom, Bethlehem en Kathu – het elk gemiddeld 430 aflosverpleegsters per maand gebruik.
Dié verpleegsters werk óf vir die hospitaal self, vir ander hospitale óf net deeltyds.
Bührmann sê 91% van hul permanente poste in die hospitale is gevul, maar indien die hospitaal voller as gewoonlik is, word hulle genoodsaak om verpleegters “in te koop”.
Hy sê verpleegterskolleges wat gesluit is en die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegsters (SANC) se beperking op studentegetalle is van die redes vir die tekort.
Die uitvloei van verpleegsters landuit en jong mense wat voel die beroep is nie finansieel belowend nie vererger die situasie.
Mev. Ina Human, provinsiale takbestuurder van Charisma, ’n agentskap vir aflos-verpleegpersoneel, sê mediese personeel registreer by hulle om hul salarisse aan te vul.
Human sê daar is verpleegsters wat al sedert 2006 by dieselfde hospitaal aflos. Sy sê sowat 20% van verpleegsters in hul databasis werk vir die staat.
Die dubbelwerkery van mediese personeel is al in 2004 deur die Staatsdienskommissie ondersoek. Hulle het tóé al bevind dat die meeste aflos-dokters en -verpleegsters in Gautengse hospitale van onder meer die Vrystaat af kom en aanbeveel dat agentskappe gesluit word.
Verpleegsters wat by staatshospitale oortyd werk, wag glo ongeveer twee maande vir oortydbetaling.
Me. Madithapo Masemola, tegniese adviseur van die nasionale gesondheidsdepartement, het onlangs gesê verpleegkundiges in diens van die departement is naby aan aftrede. Sy sê daar is ook ’n tekort aan medisyne en mediese toerusting.
Dr. Gilbert Gibson, ’n internis in Bloemfontein, stem saam dat “verpleegsters die wind van voor kry”. Hy sê hospitale moet verpleegsters beter betaal, dan is die probleem al halfpad opgelos en afloswerk is nie die probleem nie.
- Volksblad