Kind sterf nadat hy voor motor beland
2012-02-09 22:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n TRAGIESE ongeluk het die lewe van ’n 7-jarige seuntjie van Bloemfontein geëis.
Volgens lt.kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, het klein Piet Brand eergister omstreeks 18:00 in Bainsvlei, op die hoek van Boshoff- en Visserstrate, glo voor ’n aankomende motor ingehardloop.
Die vrou wat die voertuig bestuur het, het onmiddellik gestop en met Piet na die Bloemfontein Mediclinic gejaag.
Hy is in die noodeenheid van dié hospitaal oorlede.
Mbambo het gerugte ontken dat die vrou by die hospitaal in hegtenis geneem is omdat sy die ongelukstoneel verlaat het.
“Sy is slegs vir ondervraging na die polisiekantoor gebring en daarna weer vrygelaat.”
Mbambo sê die vrou het nog nie in die hof verskyn nie omdat die direkteur van openbare vervolging (DOV) moet besluit of sy vervolg gaan word of nie.