Eskom kan pryse sny
2012-02-10 22:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KAAPSTAD. – Eskom se jongste finansiële resultate het dit moontlik gemaak vir die regering om die moontlikheid van laer elektrisiteitstariefverhogings te oorweeg.
Eskom het in die ses maande tot 30 September 2011 ’n netto wins van R12,8miljard verklaar.
Mnr. Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, het Donderdagaand gesê pres. Jacob Zuma was in sy staatsrede baie duidelik oor sy verwagtings vir elektrisiteitspryse.
“Die president kon toe aankondig dat verhogings in kragpryse moontlik laer kan wees, danksy die sterk finansiële posisie van Eskom op die oomblik,” het Gigaba gesê.
Hy sê die departement gaan ’n voorlegging aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) doen ter ondersteuning van ’n argument vir ’n laer verhoging in elektrisiteitstariewe reeds van 1 April af.
Tariewe sou op 1 April met 25% gestyg het, maar die verwagting is nou dat die styging heelwat minder sal wees.
Gigaba sê hy verwag dat Nersa binne die volgende vier weke reeds ’n besluit hieroor sal aankondig.
Hy sê hulle kyk ook na die moontlikheid van laer tariefverhogings van volgende jaar af.
Die omvang van die verlagings sal afhang van die samewerking wat die regering van Suid-Afrikaners kry ten opsigte van elektrisiteitsbesparing.
“Die vraag na krag moet daal en Suid-Afrikaners moet ons daarmee help.
“Die ander faktor wat ’n invloed op die prys van elektrisiteit in die toekoms kan hê, is natuurlik insetkoste, veral steenkool, en ons hoop om binnekort groter duidelikheid te hê oor die verwagtinge vir dié insetkoste vir die volgende vyf jaar,” het Gigaba aan Volksblad gesê.
Janice Keogh berig dat me. Hilary Joffe, Eskom-woordvoerder, gister gesê het sy is glad nie verbaas oor pres. Zuma se voorstel in die staatsrede nie.
Joffe sê soos dit nou staan, is die tariefverhoging steeds 25%, soos wat die geval was die afgelope twee jaar.
“Eskom bespreek nou ’n voorstel wat ons vanjaar aan Nersa gaan doen oor die prystoename vir die volgende drie jaar (van 1 April 2013 af).”
Joffe sê Eskom is bewus van die stres op die ekonomie en dat hulle dit in ag sal neem as hulle hul voorstel aan Nersa doen.
- Volksblad