Eerste sprong in sy soort in VS uitgevoer (video)
2012-02-03 22:00
SELFS vir ’n valskermspringer met 16 jaar ervaring was dit soos Russiese roulette toe hy gister ’n basissprong (base jump) van 4 sekondes lank van ’n hoë gebou in die middestad van Bloemfontein uitgevoer het.
Mnr. Cois Kros (32), wat gisteroggend die eerste mens in die Vrystaat geword het wat só ’n gespesialiseerde sprong waag, het gewys daar is nie iets soos ’n plafon as dit by adrenalien kom nie.
Maar ervaring het beslis in sy guns getel om die eerste sprong veilig en in beheerde omstandighede vroegdag om 05:00 te kon uitvoer.
As mede-eienaar van Skydive Central in Bloemfontein en lid van die Chevrolet-valskermspan met 1200 spronge agter die blad, erken dié valskermman hy sou nie dié basissprong sonder die aanmoediging en ondersteuning van sy spanlede veilig kon uitvoer nie. Enigiets kan verkeerd loop, sê hy.
Gisteroggend was egter die perfekte dag met windstil weer.
Ook die wetsaspekte is in ag geneem en die toestemming van die grondeienaar van die Loch Logan-park-woonstelgebou in Nelson Mandelarylaan is betyds verkry. Hy het sonder enige moeilikheid in ’n parkeerterrein in die stad geland.
Kros vertel hy het in Desember ’n maand lank in Port Elizabeth opleiding ondergaan om dié sprong van 27 verdiepings te kon doen.
Dít, sê hy, was net die begin van sy loopbaan in die adrenalien-sportsoort van basisspring.
Reaksietyd is baie korter as met gewone valskermspronge as jy net 190 voet pleks van die gewone 12000 voet ver val.
Sy toerusting is van Amerika af ingevoer en dit neem ’n uur langer om te pak as ’n gewone valskermpak.
Dié boorling van Kimberley, wat volgende die C.R. Swart-gebou in Bloemfontein en die hoë mikrogolftoring in Kimberley wil aandurf, sê hy werk die afgelope twee jaar as kliniese maatskaplike werker.
“Elkeen het ’n uitlaatklep nodig. Ek sê altyd jy moet jou energie in positiewe opbouende aktiwiteite sit. Dalk is dit gholf, rolbal of selfs bergfietsry. Dié is net myne!”
- Volksblad