Dihlabeng kry goeie verslag
2012-02-10 22:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BETHLEHEM. – In teenstelling met vorige jare wil dit lyk of die Dihlabeng-munisipaliteit sy geldsake beter bestuur. Dit blyk uit die ouditverslag vir die boekjaar 2010-’11 wat hier op ’n spesiale raadsvergadering ter tafel gelê is.
Volgens mnr. Bert van Schalkwyk, wat al die afgelope sewe jaar die munisipaliteit se oudits doen, is daar reeds reuse-vordering.
Waar daar verlede jaar sewe kommerpunte uitgelig is, was daar vanjaar net twee.
Dit was eerstens oor ’n bedrag van sowat R3385152 se bates wat nie in die register opgespoor kon word nie. Die Dihlabeng-munisipaliteit het intussen gesê dit was onder meer omdat hy nie betyds kon vasstel of sekere damwalle aan die munisipaliteit of die departement van waterwese behoort nie.
Ten spyte daarvan sê mnr. Danie Eichstädt, voorsitter van die Di-hlabeng-inwonersvereniging (DIV), dat dit wel lyk of daar nou beter rekordhouding en beheer oor bates is “danksy die hulp van ’n konsultant wat teen groot koste ingeroep moes word”.
Kommer oor die invordering van debiteure is ook uitgelig.
Die uitstaande skuld van debiteure het sedert verlede jaar met ongeveer R54miljoen toegeneem, ondanks die munisipaliteit se aksieplanne om debiteure vas te vat.
“Wanneer ’n mens so kyk na die lys van die 100 debiteure, wonder jy hoeveel van hulle se krag is afgesny soos met die Dihlabeng-inwonersvereniging se lede gedoen is.”
Die DIV spook al sedert 2009 dat die betaalkoers per wyk maandeliks bekend gemaak word om groter verantwoordbaarheid by die verkose raadslede in die wanpresterende wyke te probeer aanwakker, het Eichstädt gesê.
Hy sê die verbeteringe wat in die jongste verslag te bespeur is, is nog ver van ’n skoon verslag af. Volgens hom sal reuse-leierskap aan die dag gelê moet word om dit binne die afsienbare toekoms te bereik. “Na ons oordeel is daar maar weinig van die stadvaders in die regerende party wat oor die vermoë en toegewydheid beskik om dit te laat gebeur.”
Geen van die opposisie-partye het op die raadsvergadering kommentaar gelewer nie. Die DA het gister gesê hy gaan hom eers van kommentaar weerhou. Soos hy verstaan, gaan daar binne die volgende twee maande ’n komitee vir openbare munisipale rekeninge gestig word. Hy wil eers sy vrae aan dié komitee rig. Die komitee het dan sewe dae tyd om terugvoering te gee.
“Ter wille van goeie orde en die voorkoming van enige misverstande wil ons ons skriftelike vrae en kommentaar by die munisipale bestuurder indien sodat hulle die geleentheid het om op ons vrae en kommentaar te reageer,” sê mnr. Gerrie Roets, DA-raadslid.
Hy sê hy is vreeslik opgewonde oor die toekoms van Bethlehem en Dihlabeng.
- Volksblad