Die son het inderdaad altyd oor die Britse Ryk geskyn
2009-09-01 01:05
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Ná
die Kongres van Wenen in 1875 het die Europese vorste se
geskarrel om kolonies in Afrika te bekom byna koorsagtig geword.
Die Europese vorste het eenvoudig die kaart van Afrika rondom ’n
konferensietafel verdeel en die probleem waarmee Afrika ’n eeu later steeds
geworstel het, geskep, naamlik om sonder enige ander oorwegings stamme te
verdeel en tradisionele, natuurlike verdelings te ignoreer.
Engeland was natuurlik lankal in die proses van kolonialisering oor
die wêreld heen, want dit was juis in Engeland waar die sogenaamde
nywerheidsrevolusie twee eeue tevore reeds begin het.
Met die vestiging van fabriekswese was daar twee kandinale
behoeftes: meer grondstowwe en groter afsetgebiede, oftewel markte. Die
meganisering van fabrieke het ook ’n ander uitwerking gehad deurdat masjinerie
talle werkers vervang het en werkloses het uiteraard ’n belangrike bron vir die
aanvulling van die Britse leër gebied.
Met Engeland en Nederland kort op die hakke van die eerste
Portugese ontdekkingsreise was die Engelse vlag spoedig in talle wêrelddele ’n
bekende gesig. In Suid-Afrika was die tekens van verengelsing duidelik aan die
Kaap. Die Britse militêre stelsel van besoldigde soldate in formele militêre
eenhede het die kommandostelsel van die NOIK-tydperk vervang.
Die beginsel van die beskerming van huis en haard deur kommando’s
is verwerp. Teen 1842 moes die Republiek Natalia swig voor die Britse aanval by
Congella. Die daaropvolgende tydperk het die Xhosas telkens met die Engelse
soldate gebots in ses grensoorloë. Die Zoeloe-koninkryk was die volgende
teiken.
’n Moderne Britse krygshistorikus bekla die lot van die Britse leër
in die 19de eeu met: “In three successive years they had to fight against Xhosas
(1878), Zulus (1879) and Boers (1880).”
Die geskiedenis van die 19de eeu kan nie in ’n paar woorde opgesom
word nie, maar die feit was dat daar Britse kolonies in Noord-Amerika,
insluitend Kanada, Australië, Indië, Suidoos-Asië, in die Sjangai-omgewing van
China, talle eilande in die Atlantiese Oseaan en natuurlik ook talle kolonies en
protektorate in Afrika was. Die doel van dié kolonialisering was altyd gegrond
op ’n handelsmotief, maar daar was ook ander onderliggende dryfvere.
Die London Missionary Society het die nuwe wêrelde gesien as
sendingvelde en hulle het probeer om die Christelike godsdiens daar te vestig.
Dit was nie altyd verhewe bo politieke oogmerke nie. In die
Suid-Afrikaanse geskiedenis kan verwys word na eerwaardes Reid en Van de Kemp en
dr. Philip wat ook ’n twyfelagtige politieke rol gespeel het.
Daar was ook nog ’n bepaalde Britse verwaandheid deurdat deurgaans
’n beskawingsveldtog begin is, maar met ’n rassistiese ondertoon. Die Indiese
beskawing, met die klem op beskawing, was baie oud, maar heel verskillend van
die Britse siening.
Dit kan tereg gesê word in die tydperk van koningin Victoria was
daar Britse imperiale belange rondom die wêreld en dat, omdat die aarde rond is,
die son op enige gegewe oomblik geskyn het oor ’n deel van die Britse imperiale
ryk.
Die stelling, “the sun never sets on the British Empire”, is dus
waar, maar uit ’n moderne demokratiese oogpunt waar waarde geheg word aan
menseregte en die reg op selfbeskikking, is dit nie noodwendig ’n vleiende
stelling nie. Dit bring ook ’n bepaalde perspektief na die vorige artikel waar
die Anglo-Boereoorlog se oorsake uitgespel is as die gevolg van ’n bosing tussen
imperialisme en nasionalisme.
- Volksblad