DJ Ossewa se Raapie laaste keer gegroet
2010-09-07 03:09
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – DJ Ossewa sal voortaan net uit drie lede bestaan.
“Ons is nie van plan om ’n ander kunstenaar in Dwayne se plek te kry nie, want daar is net een Raapie,” het mnr. Marnus Bisschoff, DJ Ossewa se bestuurder, gister gesê.
Familielede, vriende en aanhangers het in die NG kerk Spioenkop in Walkerville, suid van Johannesburg, van Dwayne Venter (21), oftewel Raapie Knapie, afskeid geneem.
Die sanger Gerrie Pretorius, ’n vriend, het Amazing Grace gesing. Dit was die lied wat Venter die meeste op sy eerste trekklavier gespeel het, die een wat hy as sesjarige saam met sy oupa, mnr. Dennis O’Neil, by ’n winkel vir tweedehandse goed gekoop het.
Die kleurbaadjie wat hy as Raapie op die verhoog gedra het, het op sy kis gelê en sy nuutste rooi trekklavier is voor in die stampvol kerk uitgestal.
Venter, wat as “’n groot kunstenaar” beskryf is, is op 29 Augustus dood toe die bussie waarin DJ Ossewa gery het op die N4-snelweg naby Brits teen ’n VW Polo gebots het.
Hy was die enigste kind van mnr. Mike en mev. Venessa Venter van Walkerville.
Die ander drie DJ Ossewa-lede, Jerbes de Bruyn (Die Leeuboer), Riaan van Wyk (Daniel Jakobus Ossewa) en Pieter Rischmüller (Piet Pompies), het huldeblyke aan hom gelewer.
“Jy het ons altyd baie laat lag. Wie sou gedink het jy sal ons so baie laat huil,” het Van Wyk gevra.
De Bruyn het vertel Venter het die rol van Raapie, ’n dom skoolseun, so goed vervul dat mense ná hul vertonings soms “stadig met hom gepraat het”.
Venter en sy vriendin, me. Maresa Bothma (23), wou in Desember verloof raak, ná ’n verhouding van drie jaar.
“Jy was en sal altyd my held bly,” het sy in haar huldeblyk gesê.
Sy het Venter “vermaan” en gesê: “Bobby van Jaarsveld het jou nie beter as ek gesoen nie.”
Dit verwys glo na ’n skertsery, omdat Van Jaarsveld dikwels gespog het hy soen Raapie “beter” as Bothma, terwyl hy met ’n lekker klapsoen laat waai het.
Van Jaarsveld was ook op die dankseggingsdiens. Onder die ander kunstenaars daar was Arno Jordaan, Chereé, Joe F en die musiekgroep Wasserfall.
- Volksblad