DA-LP’s ‘gereed om nuwe portefeulje-uitdagings te takel’
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KAAPSTAD. – Die ongedurigheid in die DA-koukus oor die skommeling in die skadukabinet het grootliks gaan lê, met erge ontevredenheid wat teen gisteraand tot sowat ’n halfdosyn DA-LP’s beperk was.
Dit volg op die geskokte reaksie vroeër vandeesweek deur mnr. Lourie Bosman, DA-LP en voormalige president van AgriSA, toe hy van landbouwoordvoerder verskuif is na adjunkwoordvoerder oor hoër onderwys.
Diegene wat ontevrede is, voel oor die algemeen hulle is nie geplaas in die portefeuljes waarvan hulle spesialiskennis het nie.
’n Paar parlementslede het Volksblad gekontak met hul griewe, maar die meeste het die sentiment van dr. Pierre Rabie, die ervare Overbergse LP wat nou adjunkwoordvoerder oor openbare rekeninge is, gedeel.
“Ek is ’n nuwe taak opgelê en ek gaan ’n sukses daarvan maak. Ek het nie verlede jaar vir haar gestem nie, maar dit is nou die tyd om ons leier (me. Lindiwe Mazibuko) se hand te sterk. Ek dink sy vaar goed. Ons opponent is die ANC; nie mekaar nie.
“Die politiek gaan om beleid, nie om persoonlikhede nie,” het Rabie benadruk.
Intussen het mev. Annette Steyn, die boervrou van die Venterstad-distrik in die Oos-Kaap wat voortaan landbou namens die DA gaan hanteer, reeds volstoom begin werk.
“Die eerste uitdaging wat ek reeds begin takel het, is om vas te stel waarom soveel van die departementele personeel nie genoegsaam opgelei is nie en hoe ons dit prakties kan help regstel. Hierin kan die rol van die departement van arbeid en die departement van grondhervorming nie misgekyk word nie.
“Tweedens stel ek my dit ten doel om die algemene beeld van die boer te verbeter en eerder ’n beleid van oplos as aanval te volg.”
- Volksblad