Beskuldiges onwettig ondervra, hoor hof
2012-02-03 21:55
VENTERSDORP. – Die ondersoekbeampte in die Eugène Terre’Blanche-moord het die geleentheid aangegryp om die minderjarige beskuldigde onwettig te ondervra voordat sy ma teenwoordig was, het die rondgaande hof hier gister gehoor.
Die 16-jarige is glo wakker gehou met net ’n kombers as beskerming teen die “koel Aprilnag,” het adv. Norman Arendse SC, vir die minderjarige, aangevoer.
“Die seun was bang en moeg nadat hy ver gestap en (vroeër die dag) gedrink het,” het Arendse in kruisondervraging aan die ondersoekbeampte, lt.kol. Tsietsi Mano, gesê.
’n Binneverhoor is aan die gang oor die toelaatbaarheid van uitwysings en erkennings.
Mano het gesê die onderhoud met die seun ure ná die moord op 3 April 2010 het spontaan plaasgevind.
“Ek het nie gedink ek oortree die wet of benadeel hom nie.”
Volgens Mano het hy die inhoud van die onderhoud later aan die tiener se ma herhaal en het die seun alles bevestig.
“Het hy ’n keuse gehad?” wou Arendse weet. “Wat kon sy ma, ’n ongeletterde alkoholis, daaraan doen?”
Die hof het ook gehoor mnr. Chris Mahlangu (31), die ander beskuldigde, sal beweer Mano het hom gedreig hy sal hom doodmaak tensy hy uitwysings doen en ’n verklaring voor ’n landdros aflê.
Mahlangu het ’n paar dae ná die moord ’n verklaring voor ’n landdros afgelê, maar sy destydse prokureur het die proses halfpad gestuit.
Arendse het Mano daarvan beskuldig dat hy “geneig is tot wrede, onwettige en apartheidsmetodes” om inligting uit verdagtes te kry en ’n “geskiedenis” van onwettige optrede het.
Arendse het verwys na ’n hooggeregshofbevinding in 2008 dat onder andere Mano mnr. Madimetja Phineas Kutumela, ’n tradisionele geneser, in 2004 ontvoer en gemartel het om ’n misdaad te beken wat hy nie gepleeg het nie. Die polisie moes skadevergoeding van meer as R500000 aan Kutumela betaal.
Mano het gister volgehou hy was onskuldig, ondanks die hofbevinding.
Hy het ook ’n hangende klag van aanranding teen hom oor die beweerde marteling van vermeende bankrowers. Hulle is glo elektriese skokke toegedien en een was na bewering ’n week in die hospitaal.
Mano het gister getuig hy word slegs daarvan verdink dat hy klappe uitgedeel het.
Hy het volgehou die uitwysings en erkennings ná die Terre’Blanche-moord is vrywillig gedoen nadat albei beskuldigdes se regte in Tswana aan hulle verduidelik is. Die uitwysingsprosedures en implikasies is ook breedvoerig verduidelik, het Mano getuig.
- Volksblad