Bejaarde sterf in plaasaanval
2010-09-06 13:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KIMBERLEY. – ’n Bejaarde man (78) is wreed vermoor en sy 72-jarige vrou vasgebind en aangerand in hul huis op die plaas Disselskuil in die Philipstown-distrik.
Lt.kol. Mashay Gamieldien, polisiewoordvoerder, het gesê mnr. Jakobus Cornelius Wartington en sy vrou, Anna Maria, is Saterdag tussen 20:00 en middernag in hul huis op dié plaas aangeval.
Mnr. Wartington het glo gaan kyk hoekom die krag afgegaan het. Die kragopwekker is in ’n kamer buite die huis. Hy is toe deur twee verdagtes oorval.
Hulle het hom wreed aangerand, die huis binnegegaan waar hulle mev. Wartington aangeval en vasgebind het.
Gamieldien het gesê die verdagtes het in die egpaar se groen Isu-zu-bakkie met die registrasienommer BZM 421 NC gevlug. Hulle het ’n 7.6 mm-Browning-pistool en ’n .22-Remington-geweer gesteel.
’n Familielid, wat nie sy naam genoem wil hê nie, het gesê mev. Wartington het ná die aanval na die telefoon “geseil” en haar seun op ’n nabye plaas gebel.
“Sy het vroeër ’n heupvervanging gehad. Ek weet nie hoe sy dit reggekry het om by die telefoon uit te kom nie. Dit was pikdonker en sy was met veters vasgebind.”
Die familielid het gesê mev. Wartington het gesê die rowers wou geld by haar hê.
“Sy het nie geld gehad nie. Sy is ’n bejaarde, hoekom het hulle haar so geslaan?”
Mnr. Wartington word oorleef deur ’n dogter en drie seuns. Sy seun wou nie gister met Volksblad praat nie en het ook gevra dat sy naam nie genoem word nie.
’n Dokter by die Sentraal-Karoo-hospitaal op De Aar het gesê mev. Wartington se toestand is stabiel. Sy het ’n kopbesering en ’n fraktuur aan haar voorarm opgedoen.
Die egpaar het die afgelope drie jaar op die plaas gebly. Hulle is Suid-Afrikaanse burgers, maar het vroeër in Zimbabwe gebly. Nadat hulle uit Zimbabwe verwilder is, het hulle teruggekom Suid-Afrika toe.
Mnr. Johan van Rensburg van Agri-Noord-Kaap het gister gesê hulle is geskok oor die aanval.
“Bejaardes is plaasaanvallers se teiken.”
Hy het gesê dit is baie kommerwekkend. Hy is nie bewus van enige voorvalle van plaasaanvalle die afgelope 20 jaar in dié distrik nie.
Enigiemand met inligting, kan ao. Pieterson by 053-665-2000 bel.