Bejaarde Upingtonner vermoor; vrou aangerand
2010-05-13 00:37
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
UPINGTON
Op die dag wat ’n bejaarde man van Florapark, Upington, sy 74ste verjaardag sou gevier het, is sy lyk gister deur kuiergaste in sy huis gekry nadat hy vermoedelik reeds Dinsdag helder oordag vermoor is.
Sy erg beseerde vrou is in ’n kritieke toestand in die Medi-Clinic hier nadat hulle in hul huis oorval en erg aangerand is.
Mnr. Carel van Zyl is weens hoofsaaklik hoofbeserings dood. Mev. Van Zyl (70) het ook ernstige hoofbeserings opgedoen. Hulle is deur kuiergaste gekry wat Van Zyl met sy verjaardag wou kom gelukwens.
Wasgoed wat mev. Van Zyl Dinsdagoggend gewas het, het gistermiddag nog aan die wasgoeddraad gehang.
Geskokte bure wat van die werk teruggekom het, het laatmiddag stadig voor die huis verbygery.
Oorkant die huis het polisielede na leidrade in die veld gesoek.
Kol. De Witt Botha van die polisie se afdeling georganiseerde misdaad het gister op die toneel gesê die aanval was vermoedelik Dinsdagmiddag laat. Die aanvallers het nie geforseerde toegang tot die huis gekry nie.
Die patologiese ondersoek is nog nie afgehandel nie.
Hy sê tot dusver is daar nog geen leidrade nie. Klagte van moord, poging tot moord en inbraak word ondersoek. ’n DVD-speler en los goedere is uit die huis gesteel.
Mnr. Van Zyl is in die gastebadkamer gekry, en sy vrou op ’n matjie in die badkamer by hul slaapkamer.
’n Geskokte buurvrou en vriendin van die Van Zyl-egpaar, mev. Max van Rensburg, het aan Volksblad vertel mev. Van Zyl het Maandagmiddag by haar gekuier. Sy het toe gesê sy wil Dinsdagoggend wasgoed was.
“Sy het altyd vroegoggend klere gewas. Sy het vanoggend (gister) ’n haarafspraak gehad. Toe dit gisteroggend stil by hul huis was, het ek gedink sy is reeds weg vir die afspraak.
“Ons het juis Maandag oor die veiligheidskwessie gesels,” het sy gesê.
’n Hartseer Van Rensburg het vertel die Van Zyls het in Desember haar en haar man, Tokkie, se tuin versorg toe hulle gaan toer het. “Ons was baie goeie vriende.”
Die twee egpare was sowat vier jaar lank bure, nadat die Van Rensburgs hier kom woon het. Die Van Zyls het heelwat langer hier gewoon.
Sy sê sy en haar man het uitgevind wat gebeur het toe hulle uit hul huis gestap het om vir die Van Zyls te gaan kuier. Mev. Van Zyl het gesê sy sal koek gereed hê as hulle mnr. Van Zyl wil kom gelukwens.
Sy sê die egpaar se seun, Louis, woon in Pretoria, en hul dogter, wie se naam sy nie ken nie, in Namibië. Hulle is reeds in kennis gestel.
De Witt het versoek dat enigiemand met moontlike inligting wat in die ondersoek gebruik kan word, ao. Boer Muller van die afdeling teen georganiseerde misdaad moet bel. Sy nommer is 082-464-9591.
- Volksblad