Altesaam 20 mense kry veesiekte
2010-03-13 05:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Altesaam 20 mense is reeds met slenkdalkoors gediagnoseer en honderde stuks vee daaraan dood.
Luidens ’n verklaring deur die nasionale gesondheidsdepartement is 19 van die besmettes Vrystaters en een is van die Noord-Kaap.
Vroeër is ook berig dat ’n ongeïdentifiseerde Vrystaatse man aan die siekte gesterf het.
Dr. Molefi Sefularo, adjunkminister van gesondheid, sê troppe vee wat op 30 plase in die Vrystaat en een op Colesberg gevrek het, is positief getoets vir slenkdalkoors.
Volgens hom het die virus ook nou in die Oos-Kaap uitgebreek met twee plase daar wat reeds getref is.
Sefularo sê die meeste van die menslike gevalle word verbind met direkte kontak met siek diere. Boere, plaaswerkers en veeartse loop ’n hoë risiko om besmet te word.
Sefularo waarsku dat boere en veeartse beskermende klere moet dra wanneer hulle siek diere hanteer.
Hy sê boere moet afweermiddels vir muskiete gebruik, diere na hoër gebiede bring en gebiede met staande water vermy.
Hy sê die virussiekte het vermoedelik ná die baie reën in die Bultfontein-distrik uitgebreek en versprei.
“Al is daar nog nie ’n spesifieke behandeling vir dié virus nie, sal die meerderheid van die mense wat besmet word volkome herstel.”
Dié koors word deur muskiete tussen diere oorgedra.
Die simptome sluit in erge griepsimptome, soos kwaai lyf- en kopseer.
Dié simptone duur gewoonlik net vier tot sewe dae voordat dit stadig verdwyn.
“By die meeste mense is die simptome lig, maar dit word ernstig by minder as 1% van gevalle met komplikasies soos breinvliesontsteking, hemoragiese koors en selfs blindheid.”
Sefularo sê die uitgebreide ondersoek wat deur verskeie belanghebbendes uitgevoer word, gaan intussen voort.
- Volksblad