Aandjie uit eindig in ’n bloedbad
2010-01-18 05:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n Aandjie uit het in ’n bloedbad geëindig toe ’n man dood is nadat hy 28 steekwonde opgedoen het.
Die lyk van mnr. Steven Peter “Seun” Durandt wat op 10 Januarie sy 35ste verjaardag gevier het, is Saterdag in die vroeë oggendure in ’n poel bloed in ’n oop stuk veld in Bloemspruit, Bloemfontein, gevind.
Hy en ’n vriend, mnr. Jasper Slabbert (39), albei van Bloemspruit, was vroeër by ’n kuierplek.
Die mans het die kuierplek verlaat en is toe aangeval.
Volksblad het gister met Slabbert in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein, waar hy met vyf steekwonde opgeneem is, oor die nagmerrie-ervaring gesels.
Slabbert sê hulle het gestap toe hulle hoor hoe mense agter hulle aangehardloop kom. Hy en sy vriend het besluit om vir die aanvallers weg te hardloop.
“Ek het gevoel hoe ek van agter (met ’n mes) gesteek word. Ek het vir hulle gesê ek het niks geld nie.”
Die aanvallers het hom deurgesoek en sy sigarette gevat.
Nadat hy nog steekwonde opgedoen het, het hy daarin geslaag om op te staan. Hy het ’n ent gehardloop, maar weer geval. “Ek het duiselig geword.”
Slabbert het later bygekom en gevlug, maar gewonder waar sy vriend is.
Slabbert het by die huis van AO1 Danie Smith van die Bloemspruit-lugmagbasis en sy vrou, Thea, opgedaag.
Durandt en sy ma, Joey (66), woon saam die Smith-egpaar.
Mev. Smith het ’n ambulans gebel en Slabbert is later na Pelonomi gebring.
Intussen is mev. Smith na die polisiekantoor. Sy moes later die lyk van Durandt op die moordtoneel aanskou.
“Ek was van my kop af toe ek sien hoe hulle hom gesteek en hom seergemaak het,” sê mev. Smith.
Lede van die Bloemspruit-polisiediens het vinnig opgetree en twee jeugdiges kort ná die voorval in hegtenis geneem.
Trane het vryelik oor die ma se wange gestroom. Sy het nie woorde gehad om te beskryf hoe sy oor haar kind se dood voel nie.
Vlugsersant Johan Croukamp, ook van die Bloemspruit-lugmagbasis en mev. Durandt se susterskind, sê die doodstraf moet weer in werking gestel word. “Ek hoop dié mense (moordenaars) sit lewenslank.”
Durandt was baie vaardig met sy hande. Hy het graag houtwerk gedoen en tuin gemaak. Hy word beskryf as ’n sagte en liefdevolle mens.
Durandt was ongetroud en het nie kinders gehad nie.
Kapt. Elsa Gerber, polisiewoordvoerder, sê die vermeende moordenaars sal vandag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn.
- Volksblad