Safa bloos al weer
2012-01-02 21:12
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BLOEMFONTEIN. – Bafana Bafana se sokkerjaar het gister begin soos hulle die vorige een afgesluit het – in trurat.
Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het op 23 Desember ’n nasionale groep van 30 spelers aangekondig om oefening te bied aan Ekwatoriaal-Guinee, Zambië en Ghana ter voorbereiding vir die lande se deelname aan die Afrikabeker-toernooi.
Die nasionale groep moes intussen gewysig word omdat van die plaaslike klubs nou ook nie hul spelers wou vrystel nie, is gister onthul.
’n Nuwe nasionale groep, wat weer kan verander voor daar vandag op die vliegtuig geklim word, is toe gister aangekondig. Suid-Afrika speel reeds Donderdag in Malabo teen Ekwatoriaal-Guinee, een van vanjaar se medegashere vir die Afrikabeker-toernooi.
Enkele dae ná sy terugkeer wag Zambië in Atteridgeville, waarna Ghana in Phokeng ook geleentheid gaan kry om teen hom te slyp. Laasgenoemde twee wedstryde sal nou bloot oefenwedstryde wees.
Dit sal nie meer internasionale status geniet nie omdat dit nie teen ’n volwaardige nasionale span sal wees nie, berig Sapa.
Altesaam 12 spelers van Orlando Pirates, Golden Arrows en Mamelodi Sundowns is aan die groep onttrek.
Twee nuwe doelwagters moes onder meer aangewys word omdat Pirates se Moeneeb Josephs en Wayne Sandilands van Sundowns nie meer beskikbaar is nie.
Siphiwe Tshabalala, wat ook as kaptein waargeneem het, kon ook nie oorweeg word nie.
Hy hoop om die Engelse klub Crystal Palace die volgende paar dae genoeg met ’n proeflopie te beïndruk.
)Die groep na Ekwatoriaal-Guinee is: Doelwagters: Darren Keet, Brilliant Khuzwayo. Verdedigers: Siboniso Gaxa, Morgan Gould, Ayanda Gcaba, Eric Mathoho, Nazeer Allie, Anele Ngcongca, Rudiger Gilbert, Patrick Phungwayo. Middelveldspelers: Daylon Claasen, Reneilwe Letsholonyane, George Maluleka, Sibusiso Vilakazi, May Mahlangu, Granwald Scott, Mzikayise Mashaba, George Lebese. Doelskieters: Lehlohonolo Majoro, Bradley Grobler, Siyabonga Notshinga, Ryan Chapman.
- Volksblad