SA o.23-span te swak vir Spele
2011-12-04 21:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
MARRAKESJ (Marokko). – Suid-Afrikaanse sokker het in die naweek nog ’n toets gedop toe die nasionale o.23-span nie vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele kon kwalifiseer nie.
Egipte het Suid-Afrika Saterdag hier met 2-0 in die Afrikabeker-sokkertoernooi vir o.23’s geklop.
Dié nederlaag beteken dat die SA span sy kans verspeel het om vir die Spele in Londen te kwalifiseer.
Hy moes Egipte in die laaste van sy Groep B-wedstryde klop om enigsins ’n kans te hê om in Engeland deel te neem.
Ná gelykop-uitslae teen Gaboen en die Ivoorkus het Suid-Afrika laaste in Groep B geëindig.
Die Suid-Afrikaners het swak gespeel.
’n Begeesterde Egiptiese span het van meet af aan daarin geslaag om die Suid-Afrikaners onder druk te plaas.
Die Suid-Afrikaners het sake vir hulself bemoeilik deur heeltemal te maklik besit af te staan.
Ondanks die gesukkel was die rustydtelling nog 0-0.
Die keerpunt in die wedstryd het gekom toe Shakes Mashaba, Suid-Afrika se afrigter, ná die rustyd besluit het om Thulani Hlatshwayo (verdediger) met Rodney Ramagalelo (aanvallende speler) te vervang.
Mashaba het gehoop dat die posisionele verandering sy span se kanse sou verbeter om ’n doel aan te teken.
Die Egiptenare het die ver andering onmiddellik uitgebuit en knaend op die aanval geboer.
Mohamed el Eny het Egipte se eerste doel in die 46ste minuut aangeteken nadat Thami Sangweni die bal in die middelveld verloor het.
Sewentien minute later het Mohsen Gamal ’n beweging afgerond wat deur sy spanmaat, Sabhi Mohamed, begin is.
Sameegh Doutie, Thandani Ntshumayelo en Christopher Flandorp het geleentheid gehad om doele te skiet, maar Ahmed el Shenawi, Egipte se doelwagter, het met briljante keerwerk telkens die bal weggekeer.
Egipte speel vandeesweek in die een halfeindstryd teen Marokko, terwyl Gaboen en Senegal in die ander kragte meet.
Die voorste drie spanne dring deur tot die Olimpiese Spele, terwyl die vierde span teen ’n span van Asië moet uitspeel om te kwalifiseer.
- SAPA