Pitso koekeloer na WB
2011-11-11 22:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PORT ELIZABETH. – Die manier waarop Bafana Bafana se afrigter, Pitso Mosimane, die frase “visie 2014” vandeesweek geuiter het, het ’n mens byna laat hoendervel kry.
In 2014 word die volgende Wêreldbeker-toernooi in Brasilië aangebied ... en dis waarheen Mosimane mik.
Sy visie gaan vandag hier in die Nelson Mandelabaai-stadion behoorlik getoets word, want sy span speel in die Nelson Mandela-uitdaagwedstryd teen die sterkste land in Afrika, die Ivoorkus.
Selfs sonder die uitblinkers Didier Drogba en Cheick Tiote lyk die besoekers hopeloos te sterk vir die plaaslike span.
Mosimane se Visie 2014 kan dus dalk gou bietjie oogdruppels benodig.
Dié welsprekende breier het wel gesê die kragmeting met die Ivoorkus is dalk ’n bietjie te gou vir die huidige span.
Terselfdertyd het hy gesê sy span, wat verskeie groentjies insluit, moet soveel moontlik teen sterk spanne getoets word.
“Ons moet die teleurstelling van die Afrikabeker in die agtergrond skuif en vorentoe kyk,” het hy gesê.
Net so positief en welsprekend, hoewel meer prewelend, was die Bafana-kaptein, Steven Pienaar.
“Dis goed vir die jong spelers om hulle teen die bestes van Afrika te toets,” het hy gesê.
Een so ’n jongeling wat dalk sy kans kan kry, is die Baaise boorling Kermit Erasmus.
Dit wil lyk of Mosimane hom saam met Katlego Mphela as doelskieters gaan inspan.
Bafana kon in die afgelope ses kwalifiserende wedstryde vir die Afrikabeker-toernooi net vier doele aanteken.
Die druk sal dus op die doelskieters wees om ordentlik af te rond. Teen ’n span soos die Ivoorkus gaan jy nie veel kanse kry nie. Al is die besoekers, wat maar eergister hier geland het, dalk bietjie vlugvoos.
Mosimane se Visie 2014 is dus vandag op dun ys, maar dis darem nou eers 2011. Maar 2013 is nogal naby.
* Die spanne is:
Bafana Bafana (uit): Moneeb Josephs, Wayne Sandilands, Morgan Gould, Happy Jele, Siboniso Gaxa, Tsepo Maselela, Anele Ngcongca, Siyabonga Sangweni, Punch Masenamela, Bilankulu Musa, Bevan Fransman, Daylon Claasen, Hlompho Kekana, Oupa Manyisa, Thanduyise Khuboni, Siphiwe Tshabalala, Renbeilwe Letsholonyane, Granwald Scott, George Lebese, George Maleluka, Steven Pienaar, Teko Modise, Kagisho Dikgacoi, Kermit Erasmus, Siyabonga Nontshinga, Katlego Mphela, Bradley Grobler.
Ivooorkus (uit): Boubacar Barry, Gnanhouan Gerard, Daniel Yeboah, Benjamin Angoua, Souleiman Bamba, Emmanuel Eboue, Igor Lolo, Siaka Tiene, Kolo Toure, Didier Zokora, Jean-Jacques Gosso, Max Gradel, Coulibaly Kafoumba, Didier Ya Konan, Yaya Toure, Wilfried Bony, Seydou Doumbia, Gervinho, Salomon Kalou.
Afskop: 15:15.

Op dié groep se skouers rus daar vanmiddag in die Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth ’n groot taak wanneer Bafana Bafana teen die Ivoorkus in die Nelson Mandela-uitdaagwedstryd speel. Foto: Richard Huggard | Gallo Images
- Volksblad