Man City nou 5 punte voor United in liga
2011-12-04 21:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – Manchester City staan dié week op die rand van ’n onverwagse uittog uit die Europese Kampioeneliga, maar wat sy oorheersing van die Engelse Premierliga betref, is daar geen einde in sig nie.
Roberto Mancini se span is nou vyf punte voor sy naaste teenstander en buurman, Manchester United, nadat hy Norwich City eergister in die Etihad-stadion op ’n drafstap met 5-1 geklop het.
Doele deur Sergio Aguero, Samir Nasri, Yaya Toure, Mario Balotelli en Adam Johnson het die Citizens se wurggreep op dié liga verstewig – selfs al het United, Tottenham Hotspur, Chelsea en Arsenal ook weinig moeite ervaar in húl kragmetings.
Spurs het die derde plek op die puntelys ingeneem deur Bolton Wanderers met 3-0 af te ransel nadat die sukkelende Chelsea verras het deur Newcastle United met dieselfde telling te troef.
Alex Ferguson se United moes effens harder werk om Aston Villa met 1-0 onder te kry, maar Arsenal het met 4-0 amok gemaak teen Wigan Athletic. Vroeër het Blackburn Rovers vir Swansea City met 4-2 kafgedraf danksy ’n viertal aan doele deur Ayegbeni Yakubu, terwyl Queens Park Rangers en West Bromwich Albio met 1-1 gelykop gespeel het.
)City het nou reeds ’n yslike 48 doele in net 14 wedstryde ingeryg en is die enigste onoorwonne span in vanjaar se liga. Tog het Mancini sy span teen oorgerustheid gewaarsku. “Dit was nie ’n maklike wedstryd nie, want Norwich het aanvanklik goed verdedig en die lewe baie moeilik gemaak vir ons,” het dié Italiaanse afrigter aan BBC Sport gesê. “Dis belangrik om op ons goeie begin voort te bou, want almal weet die seisoen is lank en onvoorspelbaar.”
Mancini-hulle pak die Duitse sokkerreus Bayern München oormôre in ’n stryd wat City móét wen om steeds ’n buitekans te hê om deur te dring tot die uitklopronde van die Kampioeneliga.
“Party mense meen ons moes meer verdedigend gewees het in die groepstryde wat ons verloor het, maar ons het die seisoen begin met ’n aanvallende ingesteldheid en dit sal nie verander nie.”
- Volksblad