Bafana-doele sal kom, sê Bradley Grobler
2011-11-09 22:12
PORT ELIZABETH. – Gee kans, die doele sal kom.
So sê die jong doelskieter Bradley Grobler (23) wat dalk Saterdag sy debuut vir Bafana Bafana maak.
Dit volg nadat die nasionale span se afrigter, Pitso Mosimane, vroeër gekla het oor die tekort aan spelers wat doele kan aanteken.
“Ons het goeie doelskieters. Ek dink nie ons het ’n tekort aan talent in dié posisie nie,” het Grobler gister hier gesê.
“By Bafana Bafana werk ons hard om vorentoe te speel. Ons moet net ’n bietjie geduldig wees, die doele sal kom.”
Steven Pienaar, die kaptein, het Grobler ondersteun deur te sê van die doelskieters se besluitneming sal verbeter namate hulle meer ervaring opdoen.
“In die afgelope paar wedstryde is kanse geskep, maar weens druk is verkeerde besluite geneem,” het Pienaar gesê.
Hoewel Grobler as een van die opkomende helde van Suid-Afrikaanse sokker beskou kan word, is die kans skraal dat hy Saterdag hier in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Ivoorkus sal speel.
Kermit Erasmus, Siyabonga Nontshinga en Katlego Mphela is die ander doelskieters waaruit Mosimane kan kies.
“As ek wel ’n kans kry om te speel, sal dit wonderlik wees,” het Grobler gesê.
“Dis iets waarvoor ek nog my hele lewe lank werk. Dit was nog altyd my droom om vir Suid-Afrika te speel.”
Grobler het in Augustus ’n kontrak met Goztepe in Turkye gesluit wat hom dié klub se duurste speler gemaak het.
“Ek dink nie my skuif van Platinum Stars na Turkye het ’n invloed op die afrigter (Mosimane) se besluit gehad om my nou in die nasionale groep op te neem nie,” het Grobler gesê.
)Sita da Xulu van Mamelodi Sundowns is intussen as plaasvervanger vir die beseerde verdediger Bongani Khumalo aangewys.
- Volksblad