Wedloop om nr. 4-trui nog wawyd oop – Naka
2012-02-02 22:33
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BLOEMFONTEIN. – Gebruik elke sekonde in ’n oefenwedstryd voor die Super-rugbyreeks om die Cheetahs se nr.4-trui joune te maak.
Dís die uitdaging wat Naka Drotské, die Cheetahs se afrigter, aan Andries Ferreira, Francois Uys en George Earl gerig het in die aanloop tot môre se oefenstryd teen die Stormers.
Ferreira is gister in die sentrale streekspan se beginspan vir sy Nuweland-kragmeting ingesluit, maar volgens Drotské is die wedloop tussen bogenoemde drie nog wawyd oop.
Philip van der Walt kry ook kans as flank, met die Springbok-agtsteman Ashley Johnson wat ’n plaasvervanger is. Die Bok Davon Raubenheimer sal die nr.8-trui dra.
WP Nel sal sy ná ’n skoueroperasie as vaskopstut terugkeer. Hy kon nog nie verlede naweek teen die Southern Kings speel nie.
Hoewel Uys verlede jaar die Vrystaat se eerste keuse in die Curriebeker-reeks was, lyk dit of hy vanjaar groter mededinging het.
Die Cheetahs se afrigtingspan is glo beïndruk met wat hy van Ferreira gesien het en Earl is nie ver agter nie.
Uys was teen die Kings in die beginspan, met Ferreira ’n plaasvervanger. Earl was weer Dinsdag ’n plaasvervanger teen die Griffons.
“George Earl het teen die Griffons sy kans aangegryp en lyk goed. Dis nog oop tussen hulle drie (Uys, Ferreira en Earl) en hulle sal moet speel om ’n plek,” sê Drotské.
Johnson het glo nie ’n wafferse vertoning teen die Kings gelewer nie, maar sy afrigter meen daar moenie te veel in sy weglating gelees word nie.
“Dis maar net om almal ’n gelyke kans te gee.
“Ashley het verlede naweek begin en ons wil Philip ook ’n kans gee.”
Die afrigter sê boonop die Shimlas-kaptein, Lappies Labuschagné, is ook nog in die wedloop om sy lostrio vir die span se eerste Super-stryd, op 25 Februarie teen die Lions, te haal.
Labuschagné en ander Cheetahs soos die vleuel Cameron Jacobs is in die Cheetahs se vergrote groep, maar speel eers in die Varsitybeker vir die Shimlas.
“Hulle speel as’t ware proewe in die Varsitybeker se eerste drie wedstryde en ons sal daar kyk wat in hulle steek,” sê Drotské.
) Die Cheetahs-span is: Hennie Daniller, Dusty Noble, Robert Ebersohn, Andries Strauss, Rocco Jansen, Johan Goosen, Pieter van Zyl, Davon Raubenheimer, Philip van der Walt, Heinrich Brüssow, Izak van der Westhuizen, Andries Ferreira, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Marcel van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Lourens Adriaanse, George Earl, Francois Uys, Ashley Johnson, Marnus Hugo, Sias Ebersohn, Philip Snyman, Rayno Benjamin, Willie le Roux.
- Volksblad