Super-kontrakte op spel vir Kings-spelers
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PORT ELIZABETH. – Vandag se kragmeting tussen die Southern Kings en die Bulls hier in die Nelson Mandelabaai-stadion is veronderstel om ’n vriendskaplike een te wees.
Omdat dit so vroeg in die seisoen is, sal daar selfs mense wees wat dit as ’n oefenwedstryd beskou.
Die Kings het egter verlede week in ’n soortgelyke wedstryd teen die Cheetahs in Oos-Londen gewaarsku dat daar vir hulle meer op die spel is.
In ’n taai wedstryd het die hoogs gemotiveerde Kings goed gevaar en die Cheetahs moes sweet om te wen.
Vanmiddag speel ’n totaal ander groep spelers vir die Kings, maar die boodskap is dieselfde: Gryp jou kans aan en speel ’n kontrak vir volgende jaar se Super-reeks los.
Die feit dat daar landswyd rugby-entoesiaste is wat neer- sien op die Kings omdat hulle tot die Super-reeks toelating gekry het sonder die een of ander promosie/relegasie-wedstryd, dien ook as motivering vir die plaaslike span.
Ook vir die Bulls is daar baie op die spel. Frans Ludeke, hul breier, het aangedui dat hy spelers soek wat sy uitsoekspan se diepte kan aanvul.
Laat daar geen twyfel daaroor bestaan nie – dis nie ’n swak Bulls-span wat Baai toe gestuur is nie.
Spelers soos die skrumskakel Jano Vermaak, die slot Wilhelm Steenkamp en haker Willie Wepener sal in die meeste ander franchises dalk plek in die uitsoekspan kry.
Jongelinge soos die agtsteman CJ Stander, losskakel Louis Fouché en die vleuel Sampie Mastriet het die talent om sterre in die toekoms te word.
Die Kings is darem self nie ’n klomp kuikens nie. Hul agttal behoort die besoekers deeglik te toets en die agterlyn ken die pad doellyn toe.
Die spanne is: Southern Kings:Mzwandeli Stick, Norman Nelson, Monty Dumond, Wayne Stevens, Marcello Sampson, Louis Strydom, Danie Faasen, Luke Watson (k), Devin Oosthuizen, Mpho Mbiyozo, David Bulbring, Darron Nell, Clint Newland, Hannes Franklin, Jaco Engels. PLAASVERVANGERS: André Schlechter, Bobby Dyer, Zane Kilian, Wayne van Heerden, Vleis Engelbrecht, Dustin Jinka, Earl Rose, Tiger Mangweni, Jaco Bekker, Shane Gates.Bulls: Jurgen Visser, Sampie Mastriet, Ulrich Beyers, Lionel Cronjé, JJ Engelbrecht, Louis Fouché, Jano Vermaak, CJ Stander, Arno Botha, Jean Cook, Wilhelm Steenkamp (k), Gerrit-Jan van Vélze, Frik Kirsten, Willie Wepener, Dawie Steyn. PLAASVERVANGERS: Bongani Mbonambi, Louis Alberts, Daniel Adonga, Franco Mostert, Cornell Hess, Ruan Snyman, Francois Venter, Courtnall Skosan, Adri Jacobs, Clayton Blommetjies.
Skeidsregter: Stuart Berry.
Afskop: 17:00.
Wedstryd word nie op TV uitgesaai nie.
- Volksblad