Goose straks beter as Quade, sê Braam
2012-02-10 22:00
BLOEMFONTEIN. – Johan Goosen is ’n Quade Cooper in wording, met ’n beter skopvoet en lakwerk.
Nee, dis nie ’n lojale Cheetahs-ondersteuner wat so dink en voor 2012 se Super-rugbyreeks al sy hoop op dié jong losskakel plaas nie.
Dis die mening van die voormalige Springbok-losskakel Braam van Straaten oor die speler wat hy as die volgende Bok-ster bestempel.
Volgens Van Straaten, Cooper en Australië se skopafrigter, hou hy Goosen reeds van skooldae af dop en is hy ’n “totale losskakel”.
Hoewel dit ’n oefenstryd is, is vandag se kragmeting in Polokwane tussen die Bulls en die Cheetahs ook die eerste keer wat die Bok-losskakel Morné Steyn met die 19-jarige Goosen te doen kry.
Terwyl baie Suid-Afrikaners uitsien na Goosen se eerste Super-reeks, is daar diegene wat meen Steyn se Bok-loopbaan is dalk met die aanstelling van Heyneke Meyer as Bok-afrigter verleng.
Meyer het as Bulls-breier baie welslae met Steyn as losskakel behaal.
Van Straaten sê Steyn is steeds die generaal in die Bok-saal, maar hy is opgewonde oor ’n paar jong losskakels soos Goosen, Patrick Lambie en Elton Jantjies.
Tog meen hy Goosen se lakwerk is beter as Steyn s’n en dus kan hy ’n grote word.
“Ek hou Johan al van standerd nege af dop, toe hy nog vir Grey-kollege gespeel het. Ek het hom ook by die Cravenweek gesien.
“Hy is beslis die volgende Springbok-ster. Johan is ’n totale losskakel – hy skop goed uit die hand uit en na die pale. Hy is egter ’n beter verdediger as Morné Steyn.
“Ek was verras met Johan in verlede jaar se Curriebeker.
“Dis nog vroeg in 2012 se seisoen en ’n ou kan nie te veel in ’n oefenwedstryd lees nie, maar Johan is ’n Quade Cooper in wording, met ’n beter skopvoet en verdediging.”
Volgens Van Straaten sal ’n mens eers moet sien hoe Steyn en Goosen vanjaar onder Super-druk vaar.
Hy meen Steyn sal waarskynlik in 2012 onder meer druk wees, aangesien die Bulls baie staatmakers verloor het. Goosen speel volgens hom in ’n meer gevestigde Cheetahs-span en dit kan tot sy voordeel wees.
“Dit sal ook interessant wees om te sien hoe Morné saam met Francois Hougaard en Jano Vermaak speel. Hy het lank vir Fourie du Preez aan sy binnekant gehad.”
Steyn sal boonop ekstra mededinging van Goosen-hulle vir die Bokke se nr.10-trui kry.
“Morné is beslis in die saal, maar daar is ’n klomp jong spelers wat in sy nek blaas,” sê Van Straaten.
)Die spanne is:
Bulls: Zane Kirchner, Akona Ndungane, Johann Sadie, Francois Venter, Bjorn Basson, Morné Steyn, Francois Hougaard, CJ Stander, Dewald Potgieter, Deon Stegmann, Juandré Kruger, Flip van der Merwe, Werner Kruger, Chiliboy Ralepelle (k), Dean Greyling. PLAASVERVANGERS: Willie Wepener, Frik Kirsten, Wilhelm Steenkamp, Arno Botha, Jano Vermaak, Louis Fouché, JJ Engelbrecht.
Cheetahs: Willie le Roux, Rayno Benjamin, Robert Ebersohn, Philip Snyman, Rocco Jansen, Johan Goosen, Pieter van Zyl, Davon Raubenheimer, Ashley Johnson, Heinrich Brüssow, Izak van der Westhuizen, Andries Ferreira, WP Nel, Adriaan Strauss (k), Trevor Nyakane. PLAASVERVANGERS: Ryno Barnes, Lourens Adriaanse, Francois Uys, Philip van der Walt, Tewis de Bruyn, Sias Ebersohn, Andries Strauss, Hennie Daniller.
Skeidsregter: Jaco Peyper.
Afskop: 17:00 (SS2 op DStv).
- Volksblad