Ederies hoef nou nie meer te droom
2012-02-01 23:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
KAAPSTAD. – Nóg ’n week, nóg ’n aankondiging van ’n Stormers-span – hierdie keer vir Saterdag se opwarmwedstryd teen die Cheetahs op Nuweland.
Kyk jy egter na die spanlys , skuil daar ’n interessante storie agter die man wat Bryan Habana se nr.11-trui leen.
Ederies Arendse (21) bring op die meeste dae wat hy vir ’n oefening by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid moet aanmeld minstens drie uur in minibus-taxi’s van Mitchells Plain na Bellville en terug deur. Soms vier uur.
Dat Habana sy trui sal behou, is sekerlik, maar die deursettingsvermoë wat Arendse ten toon stel, koop ’n afrigter nie by sy naaste kafee nie.
“As Ederies ’n permanente plek in die Stormers-span kan losspeel, sal dit ’n moderne rugbysprokie wees,” het Labeeb Levy, hulpafrigter van die Westelike Provinsie se Vodacombeker-span, gister gesê.
“Ederies was verlede jaar die beste vleuel in Kaapse klubrugby. Hy kan afrond as daar ruimte is, en is dapper op die verdediging,” het Levy gesê.
“Dis onrealisties om te dink dat hy op 25 Februarie vir die Stormers teen die Hurricanes sal speel, maar hy sal baat vind by sy betrokkenheid in die uitgebreide groep.
“My boodskap aan hom is dat hy slegs sy toon in die deur het. Daar is 30000 spelers in die Kaap wat graag in daardie posisie sal wil wees.”
Jóhann Thormählen berig dat die Cheetahs se slot-aanwins, Andries Ferreira, ook sy sy groot kans voor die Super-reeks kry.
Sport24verneem dat dié voormalige Jong Bokkie die gunsteling is om in sy span se derde oefenstryd van 2012 in die beginspan te wees.
Hy het sy loopbaan by Affies asook by die Bulle, vir wie hy op Cravenweek, o.19-, o.21- en Vodacombeker-vlak verteenwoordig het, begin.
)Die Stormers-span is:
Gerhard van den Heever, Danie Poolman, JP du Plessis, Marcel Brache, Ederies Arendse, Demetri Catrakilis, Nic Groom, Nizaam Carr, Siya Kolisi, Schalk Burger (k), De Kock Steenkamp, Rynhardt Elstadt, Frans Malherbe, Deon Fourie, Deon Carstens. PLAASVERVANGERS: Siyabonga Ntubeni, Steven Kitshoff, Brok Harris, Eben Etzebeth, Donovan Armandt, Nick Fenton-Wells, Rohan Kitshoff, Bolla Conradie, Kurt Coleman, Michael van der Spuy, Berton Klaasen.
- Volksblad