Van der Wath, Coetsee skop vas met kolf op Wanderers
2012-01-26 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BLOEMFONTEIN. – Die Knights het gister op die Wanderers weens ’n stortbui van paaltjies én reën gesukkel om aan die gang te kom in hul eerste beurt teen die Lions.
Die Knights het met die uitskeityd 250/7 ná 81 boulbeurte ná die eerste dag se spel van die SuperSport-krieketstryd gehad.
Hulle het vroeër in nege balle ’n mini-ineenstorting op die Wanderers beleef waarin hulle van 121/1 tot 122/5 ineengestort het.
Pumelela Matshikwe (2/41) het dit ingelui deur met agtereenvolgende balle van Rilee Rossouw (34) en Boeta Dippenaar (0) ontslae te raak.
In die daaropvolgende boulbeurt het Chris Morris (2/44) ook die paaltjies van die nuwe aanvangskolwer, Michael Erlank (48), en Ryan Bailey (0) gekry.
Die veelsydige Werner Coetsee (34*) en Johan van der Wath (29*) sal vandag voortkolf.
)Dit was toe nie die draaiboulers wat die septer op Bolandpark in die Paarl geswaai het nie, skryf Altus Momberg.
Dit was die naatboulers, Albie Morkel (3/42) en Rowan Richards (5/49), wat die tuisspan laat bontstaan het.
Die Kaapse span is vir ’n skamele 199 lopies uitgeboul.
Die Titans was aan die einde van die eerste dag op 157/3 stewig in die saal .
Morkel het vroeg toegeslaan en het die eerste drie paaltjies platgetrek.
Hy is op die linkerpolsgewrig getref toe hy ’n bal van sy eie boulwerk probeer keer het en moes inderhaas hospitaal toe vir ’n skandering.
Die skandering het vrese besweer dat iets gebreek is en Morkel kon later weer sy boulskof hervat.
Die ervare Martin van Jaarsveld (69 van 104 balle; 8x4, 2x6) het met die kolf uitgeblink.
) Op 26-jarige ouderdom is Vaughn van Jaarsveld byna ’n vergete man in Suid-Afrikaanse krieket, maar hy het weer sy onteenseglike talent gewys, skryf Henk Steenkamp.
Dié Dolphins-hotklou het op Kingsmead in Durban 106 lopies (16x4, 1x6) teen die Warriors geslaan en die tuisspan sal sy eerste beurt op 269/5 hervat.
)In ’n provinsiale driedaagse wedstryd hier op Chevrolet Park was die Vrystaat se Dillon du Preez met 5/36 aan die spits om die Boland tot 105 in sy eerste beurt te beperk. Altesaam 18 paaltjies het gister gekantel met die tuisspan wat op 205/8 sal voortkolf.
)In Kimberley het Griekwas se Jandré Coetzee (4/29) met boulsyfers van 4/5 KwaZulu-Natal in ’n stadium op 8/5 teen die planke gehad. Die besoekers het herstel en sal op 103/6 voortkolf.
Griekwas het vroeër 330 danksy Aubrey Swanepoel (108) en Griffin Nieuwoudt (73) aangeteken.
- Volksblad