VS, GW en Noordwes steun 12
2012-02-03 21:55
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BLOEMFONTEIN. – Solank geen gehalte ingeboet word nie, is baie provinsies ten gunste van die voorstel dat die huidige 6 streekspanne of franchises met 12 provinsiale krieketspanne vervang word.
Krieket Suid-Afrika (KSA) het ’n komitee aangewys om die voorstel te evalueer.
Die implikasies daarvan sal intussen opgeweeg word en ’n aanbeveling word voor die begin van volgende seisoen verwag.
“Ons is beslis daarvoor dat die 12 provinsies weer kan deelneem. As die besluit wel geneem word, sal ons geen probleem daarmee hê nie,” het Brian Kidson, hoofbestuurder van die Griekwaland-Wes Krieketunie, aan Gerdie Karstensgesê.
Griekwas en die Vrystaat is vennote in die Knights-franchise.
“Dit sal veral help dat jong opkomende spelers nie vir die streek verlore gaan nie,” het Kidson gesê.
Griekwas het destyds toe daar nog as provinsies deelgeneem is ’n nasionale titel, die Standard Bank-beker in die 1998-’99-seisoen, gewen.
Kidson glo ook hulle sal hul man kan staan. “Ons sal beslis kan meeding, want ons het verskeie spelers wat gereelde insluitings in die Knights-span is.”
Johan van Heerden, uitvoerende hoof van die Vrystaatse Krieketunie, het gesê hy glo daar is genoeg gehalte-spelers om 12 provinsiale spanne te regverdig.
Jacques Faul, uitvoerende hoof van Noordwes, het gesê ook hulle ondersteun die voorstel om na provinsiale spanne terug te keer.
Hy het gesê die feit dat van die gedwonge huwelike tussen die provinsies wat die franchises vorm soms maar krapperig is, het straks tot die voorstel gelei.
Sou dit realiseer, meen Faul sal hulle die spel in hul streek beter kan bedryf.
Dit sal meer tuisstryde vir hulle beteken. Dit sal ook meebring dat hulle kan losies verkoop, nog adverteerders en borge betrek en hoër premies daarop plaas.
Hy is ietwat bekommerd dat “kwaliteit kan vou” met soveel spanne. Hy het gesê dis belangrik dat daar gekyk moet word dat die gehalte nie ingeboet word nie.
Sy voorstel is sewe of agt franchises.
Die 6 franschises – Knights, Dolphins, Lions, Cape Cobras, Titans en Warriors – kan volgens hom bly soos hulle is, terwyl die blitsreeks dan vir die 12 provinsiale spanne opsy gesit moet word.
- Volksblad