SA wil spiere bult in NS
2012-02-10 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – Die toer na Nieu-Seeland is waar die Proteas hulself as die beste ter wêreld gaan onderskei, glo Gary Kirsten.
En, het dié Suid-Afrikaanse krieketafrigter Nieu-Seelanders gister gewaarsku, die Kiwi’s se onlangse heldedade teen Australië en Zimbabwe beteken net mooi niks nie aan die vooraand van hul eerste wedstryd teen die Proteas sedert verlede jaar se mislukte Wêreldbeker-veldtog.
Kirsten en sy twintig20-span het gister na Nieu-Seeland vertrek vir ’n reeks van drie blits-, drie kits- en drie toetswedstryde nadat die Black Caps Suid-Afrikaanse harte in Maart gebreek het deur die Proteas in die kwarteindronde van die vierjaarlikse skouspel te klop.
“Dié is ’n reuse-toer vir ons, daaroor is daar geen twyfel nie,” het Kirsten gesê.
“Dis ons eerste reeks weg van die huis af (sedert hy middel verlede jaar die leisels oorgeneem het by Corrie van Zyl) en veral die twintig20-span is aansienlik jonger as die laaste paar jaar.”
Die koue toestande in Nieu-Seeland is boonop ’n geweldige uitdaging. “Dis gewoonlik bitter koud en op ’n warm dag styg die kwik maar tot 21 grade. Daarom het ’n mens minstens ses of sewe dae nodig om ordentlik te kan aanpas en ook om genoeg voor te berei.”
Volgens Kirsten het die toerspan reeds een oog op die toetsreeks én die geelwortel van ’n prysgeld-boerpot in April.
Sou Kirsten-hulle die Kiwi’s met 3-0 ore aansit, sal hulle Engeland onttroon as die voorste toetsspan op die planeet en daarmee saam ’n stewige $450 000 in hul sakke kan steek.
“Dit is deel van ons langtermyn-plan om die nommereen-span te wees, maar dit gaan nie oornag gebeur nie.
“Ons het reeds ons kleim afgesteek (teen Australië en Sri Lanka), maar ons moet meer bestendig wees en meer gereeld wedstryde én reekse wen,” het Kirsten gesê.
“Die kenmerk van ’n kampioenspan is dat hy op enige dag, op enige plek in die wêreld wen.”
Hy rol ook nie juis snags rond oor die gemak waarmee die Kiwi’s die afgelope maand met Zimbabwe klaargespeel het nie.
“’n Mens moet versigtig wees om nie té veel te lees in dié reeks nie, want hulle (die Kiwi’s) oorheers tot dusver al hul wedstryde en dit kan dikwels ’n verkeerde beeld skep. Dit gaan beslis nie ’n maklike toer wees nie, want Nieu-Seeland is ’n moeilike plek om krieketwedstryde te wen.
“Boonop is nie een van ons seker oor waarmee hulle vorendag gaan kom nie, maar ek glo ons hét die spelers en die vaardighede om staande te bly teen enigiets wat hulle opdis.”
AB de Villiers, die SA blitskaptein, het gesê: “Die sleutel tot sukses gaan wees om vinnig aan die gang te kom.”
- Volksblad