Miljoene wink vir SA
2012-02-01 23:01
BLOEMFONTEIN. – Die Proteas kan ’n klein fortuin op hul komende toer na Nieu-Seeland verdien.
Minstens R2,8miljoen en tot R3,6miljoen wink vir Gary Kirsten se nasionale krieketspan sou hy aanstaande maand skoonskip maak in die toetsreeks teen die Kiwi’s.
Die Proteas, wat tans tweede op die wêreldranglys vir toetsspanne is, kan die seisoen in die eerste plek afsluit as hulle Nieu-Seeland met 3-0 verslaan en indien Pakistan Engeland in die huidige toetsreeks tussen dié twee spanne met dieselfde telling klop.
Pakistan loop met 2-0 voor en die laaste toets begin Vrydag.
Die Internasionale Krieketraad het gister in Doebai aangekondig dat hy die prysgeld vir die wêreld se voorste toetsspanne meer as verdubbel.
In die verlede het die wêreld se voorste toetsspan aan die einde van die seisoen nagenoeg R1,4miljoen in die sak gesteek. Dit word nou opgeskuif na R3,6miljoen, met die span wat op 1 April tweede op die wêreldranglys is wat R2,8miljoen sal inoes.
Afgesien van die reuse-prysgeld wat skielik op die spel is tydens die Proteas se toer in die Land van die Lang Wit Wolk, is daar natuurlik ook die saak van wraak.
Die Black Caps het verlede jaar verrassend die Proteas se doppie in die kwarteindronde van die Wêreldbeker-toernooi geklink en die Suid-Afrikaners sal sake wil regstel.
Die Proteas het daardie wedstryd in Mirpur met 49 lopies verloor nadat hulle aanvanklik op pad was na ’n gemaklike oorwinning.
Aan die vooraand van die Proteas se vertrek aanstaande Vrydag na Nieu-Seeland, sukkel ’n viertal van die span se sterre egter met beserings, maar lyk dit darem of hulle almal reg sal wees vir die toer.
Die kits- en blitskaptein van die Proteas, AB de Villiers, het gedurende die onlangse eendagreeks teen Sri Lanka sy gewrig, waarmee hy telkemale vroeër in sy loopbaan al gesukkel het, met ’n omgekeerde veeghou weer beseer.
Die 27-jarige De Villiers het egter in die laaste wedstryd geen ongemak getoon nie en sy sprankelbeurt (125*, 98b, 10x4; 4x6) op die Wanderers, besaai met onortodokse houe, is as een van die bestes tot nog toe in kitskrieket beskryf.
Die nasionale afrigter, Kirsten, is in hierdie stadium egter nie bekommerd oor De Villiers se gewrig nie.
“Nee wat, hy moet dit net goed kondisioneer.”
De Villiers het uit voorsorg nie verlede week in die SuperSport-reeks vir die Titans gespeel nie en hy sal ook nie vandeesweek in Oos-Londen in dié vierdaagse reeks in aksie wees nie.
Die ander beseerdes oor wie daar in hierdie stadium effense kommer heers, is Albie Morkel, Imran Tahir en Colin Ingram.
- Volksblad