Knights móét wen...
2012-02-01 23:01
BLOEMFONTEIN. – Die Knights sal die Proteas-voorslagbouler Vernon Philander op sy gunsteling-jagveld te bowe moet kom om in die SuperSport-krieketreeks se wedloop te bly.
Philander en JP Duminy is ingesluit in die Cape Cobras-span wat van vandag af op Nuweland gasheer vir die Knights in die seisoen se voorlaaste wedstryd is.
Philander het veral die Aussies kis geboul en toe 19 paaltjies in die twee toetse die seisoen op Nuweland teen Australië en Sri Lanka ingeoes.
Hy kan die Knights laat bonstaan as hy die bal met dieselfde bestendigheid op die regte plek kan hou.
Philander het 14 paaltjies in sy drie SuperSport-wedstryde die seisoen laat kantel.
Die Knights, met 89.60 punte, móét die wedstryd volgens hul breier Sarel Cilliers wen as hulle in die prentjie wil bly.
)Die Knights groep is: Michael Erlank, Reeza Hendricks, Rilee Rossouw, Boeta Dippenaar, Morné van Wyk (k), Werner Coetsee, Ryan McLaren, Aubrey Swanepoel, Johan van der Wath, Quinton Friend, Malusi Siboto, Wiann van Zyl.
)Altus Momberg berig die weergode kan ’n reuse-guns aan die Cobras bewys wanneer hulle probeer om die reeks vir die derde agtereenvolgende seisoen te wen.
Die voorlaaste ronde van wedstryde word die week gespeel met die Titans (102.82 punte) en die Cobras (101.42) wat in mekaar se nekke blaas bo-aan die puntelys.
Die Titans het verlede naweek met hul oorwinning in die Paarl die voortou geneem.
Swaar reën word vir die volgende drie dae vir Oos-Londen voorspel waar die Titans en die Warriors kragte sal meet.
As daar nie genoeg speeltyd gaan wees om ’n uitslag af te dwing nie, kan die Cobras weer die voortou neem mits hulle die Knights op Nuweland kan pak gee.
Die terugkeer van Duminy skep ook ’n kopsorg vir die keurders.
Richard Levi het verlede week in Duminy se plek teen die Titans gespeel en hy was een van net drie Cobras-kolwers wat ’n vyftigtal in die Paarl kon moker.
Die Cobras het in die laaste klompie wedstryde kwaai gesukkel in die afwesigheid van Philander en die beseerde Rory Kleinveldt. Philander se vermoë met die bal sal die Kapenaars egter baie meer vertroue gee.
) Die Titans sal op Buffalopark in Oos-Londen waarskynlik meer oor die moontlike reën as die Warriors bekommerd wees, skryf Henk Steenkamp.
Die Warriors is verlede naweek deur die Dolphins verniel.
Dit lyk dus nie of die Oos-Kapenaars veel teenstand sal bied nie, maar die reën kan die Titans se planne in die wiele ry.
Die Titans behoort te veel skietgoed te hê met die nasionale spelers Jacques Rudolph, Faf du Plessis en Marchant de Lange in hul geledere.
Die kolwer David White maak sy buiging vir die Warriors.
) Die Lions en die Dolphins speel die naweek se derde wedstryd op Kingsmead in Durban.
Hashim Amla is terug in die tuig vir die Dolphins, wat hul beleërde kolflys ’n hupstoot behoort te gee.
- Volksblad