Dit reën paaltjies
2012-02-03 21:55
DOEBAI. – Sestien paaltjies het gister hier op die eerste dag van die derde en laaste kriekettoets tussen Engeland en Pakistan geval.
Engeland het die dag afgesluit op 104/6, ’n voorsprong van 5 lopies nadat Pakistan vir net 99 in sy eerste beurt uitgehaal is.
Andrew Strauss (41*) sit die stryd vanoggend voort vir die Engelse op ’n blad waar kolfwerk baie moeilik is.
In die Pakistani’s se beurt was dit net die middelkolwer Asad Shafiq (45) wat teenstand gebied het.
Die Engelse aanvangsboulers, James Anderson (3/35) en Stuart Broad (4/36), het die groot skade aangerig.
Dit was veral Broad wat uitstekend geboul het en in ’n vernietigende skof al sy paaltjies vir 21 lopies geneem het.
Met die etenstyd was Pakistan op 53/7 reeds diep in die moeilikheid.
Anderson het al met die laaste bal van sy eerste boulbeurt toegeslaan deur Taufeeq Umar been voor paaltjie te betrap.
Die Engelse beurt het self glad nie goed begin nie, met Alistair Cook (1) wat ver van sy lyf gespeel het na ’n aflewering van Umar Gul (2/28) en deur die paaltjiewagter, Adnan Akmal, gevang is toe hy voor die eerste glip ingeduik het.
Jonathan Trott (2) het ook nie lank gehou nie. Gul het hom been voor paaltjie betrap.
Kevin Pietersen (32) het daarna vasgebyt saam met sy kaptein, Strauss, maar nadat hy uit is, het die draaier Abdur Rehman (3/23) heelwat skade aangerig.
)In Melbourne het Indië sy eerste oorwinning op sy ellendige toer in Australië behaal deur die tweede t20-wedstryd met 8 paaltjies te wen.
Indië het die Aussies danksy puik veldwerk vir 131 in 19.4 boulbeurte uitgehaal en daarna 135/2 gekry met nog twee balle oor.
Die Speler van die Wedstryd, Ravindra Jajeda, het twee uithardlope bewerkstellig met die jong Indiese span wat eindelik die honger gewys het wat so lank afwesig was.
Gautam Gambhir het 56 onoorwonne lopies van 60 balle geslaan, met sy kaptein, MS Dhoni, wat ook ’n onoorwonne 21 van 18 balle gekry het om die oorwinning te verseker.
Vir die tuisspan het die aanvangskolwer Aaron Finch (36) en Matthew Wade (32) die beste met die kolf vertoon, maar die Aussies was deurentyd onder druk.
Hulle het ook hul laaste 3 paaltjies van net 7 balle verloor. Praveen Kumar het 2/21 geneem en Ishant Sharma (2/29).
)In Dunedin het Nieu-Seeland Zimbabwe in die eerste eendagwedstryd gerieflik met 90 lopies geklop.
Die Kiwi’s het aan Zimbabwe ’n teiken van 249 lopies gestel met Martin Guptill (70) wat die ruggraat van die beurt gevorm het.
Die toerspan was egter nooit in die prentjie nie en is vir slegs 158 uitgehaal.
- Sapa - AFP