Aussies het Indiërs op knieë
2012-01-27 22:21
JOHANNESBURG. – Net vier paaltjies staan vandag in Adelaide tussen Australië en ’n skoonskip-reekssege oor Indië.
Die besoekers, wat lelik bloedneus gekry het in die eerste drie toetse in Melbourne, Sydney en Perth, sou hul tweede kolfbeurt vroeg vanoggend (Suid-Afrikaanse tyd) op 166/6 hervat het.
Die Indiërs kort nog ’n onwaarskynlike 334 lopies om die yslike wenteiken van 500 te bereik, nadat die Aussies hul tweede beurt vroeër op 167/5 gesluit verklaar het.
Ricky Ponting, wat in die tuisspan se eerste beurt ’n dubbele honderdtal gemoker het, was gister weer aan die spits met ’n onoorwonne 60 (96 balle, 5x4).
Ondanks die vroeë verlies van Gautam Gambhir (3, 18 b) het die Indiese lopiejaagtog belowend begin, met veral Virender Sehwag in ’n omgekrapte luim.
Dié waarnemende kaptein het 62 lopies (53 b, 12x4) geklits, voordat hy die eerste van Nathan Lyon (3/57) se drie slagoffers geword het.
Ryan Harris (2/25) het kort daarna toegesien dat Rahul Dravid (25, 72 b, 2x4) se nagmerriereeks met die kolf voortduur, waarna Lyon boonop die groot paaltjie van Sachin Tendulkar (13, 34 b, 2x4) platgetrek het om die toerspan op 110/4 te laat steier.
’n Waardevolle 52 lopies om die vyfde paaltjie tussen VVS Laxman (35, 88 b, 4x4) en Virat Kohli (22, 62 b, 2x4) het die bloeding tydelik gestop, maar Lyon en ’n gewaagde enkellopie het van albei dié kolwers ontslae geraak met die veiligheid van uitskeityd reeds in sig.
)In Aboe Dhabi weier Paki-stan steeds om boedel oor te gee in die tweede van drie toetse teen Engeland.
Die “tuisspan” is met sy tweedebeurt-telling op 125/4 reeds 55 lopies voor, nadat die Engelse vir 327 uitgeknikker is.
’n Vyftigtal deur Stuart Broad (58*, 62 b, 6x4, 1x6) het Engeland verby die 300-kerf gekry, nadat die Pakistanse draaiers Saeed Ajmal (4/108), Mohammad Hafeez (3/54) en Abdur Rehman (2/67) amok gemaak het.
Monty Panesar (3/44) en Graeme Swann (1/32) het die Pakistani’s daarna op 54/4 laat wankel voordat Azhar Ali (46*, 140 b, 7x4) en Asad Shafiq (35*, 105 b, 3x4) saam 71 lopies bygedra het.
)Reën het spel tussen Nieu-Seeland (392/5) en Zimbabwe in Napier gister tot net meer as 15 boulbeurte beperk.
- Volksblad