Vier nuwes in SA gholfspan teen Skotland
2012-01-26 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
JOHANNESBURG. – Vier van die land se voorste amateur-gholfspelers sal hul nasionale debuut aanstaande maand maak in Suid-Afrika se jaarlikse toetswedstryd teen die bestes van Skotland.
Die Suid-Kapenaar Shaun Smith, Drikus Bruyns van Boland, die Westelike Provinsie se JP Strydom en Zander Lombard van Noord-Gauteng sal op 14 en 15 Februarie by Leopard Creek vir die eerste keer in die Groen-en-Goud meeding saam met die land se drie top-amateurs, Brandon Stone, Haydn Porteous en CJ du Plessis.
Dis die derde keer dat die Skotte en die Suid-Afrikaners mekaar in ’n tweedaagse toetswedstryd aanvat.
“Dis vir ons almal ’n groot eer om Suid-Afrika te verteenwoordig,” het Lombard, wat verlede Woensdag 17 geword het en die jongste lid van die span is, gesê. “Ons vier het groot skoene om te vul, want die Suid-Afrikaanse spanne was die laaste twee jaar onoorwonne.”
Stone, wat verlede jaar sy debuut saam met Du Plessis en Porteous gemaak het en die afgelope maand reeds twee keer gewen het, het gesê die nuwelinge bring ’n ekstra element na die span. “Al vier het unieke style, wat beteken ons kan mekaar se swakpunte uitskakel in die formaat van die toernooi,” het hy gesê.
“Zander is een van die langste slaners in amateurgholf en baie akkuraat. JP is ’n uitstekende windspeler. Drikus slaan die bal waarskynlik beter as enigiemand anders en Shaun is strategies baie goed.”
Die SAGA-president, Colin Burger, het bevestig dat die eerste ronde van die toernooi beurtspel- en enkelspelwedstryde sal insluit, en die tweede dag die beterbal-kompetisie en ’n tweede enkelspelstryd. – SAGA
- Volksblad