Tatta vir Simphiwe se titel?
2010-07-30 09:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Port Elizabeth - Dit wil voorkom asof Simphiwe Nongqayi se dae as die Internasionale Boksfederasie (IBF) se junior kapokgewig-kampioen getel is.
Nongqayi (36) verdedig sy titel Saterdag in Tepic, Mexiko, teen die omgekrapte 25-jarige Juan Alberto Rosas
Dié Mexikaan is ’n harde slaner wat 25 van sy 31 oorwinnings met uitklophoue behaal het. Hy kan ook woes raak en was al in die moeilikheid weens kopstampery.
Nongqayi het sy titel verlede jaar in September gewen toe hy Jorge Arce in Cancun, Mexiko, op indrukwekkende wyse met punte verslaan het.
In April was Nongqayi egter gelukkig om gelykop te boks teen die Fransman Malik Bouziane.
Dit het ’n mens laat wonder of die kampioen regtig nog lus is om te boks.
Die Suid-Afrikaner klim darem gewoonlik goed fiks in die kryt en hy het ’n ongemaklike styl.
Hy slaan egter nie vreeslik hard nie en die vraag is of Rosas hom nie gaan bevlieg en verrinneweer nie.
- Boksgeesdriftiges in Oos-Londen kan Sondag ’n kwaai geveg verwag wanneer Nkqubela Gwazela sy Suid-Afrikaanse kapokgewigtitel teen Phumzile Matyila in die Orient-arena verdedig.
- Sport24