Schwartzel blaas in voorloper se nek; Kruger oorleef nie afsnypunt
2012-01-27 22:21
JOHANNESBURG. – Die Deen Thorbjørn Olesen (137) is die voorloper by die halfpadmerk van die Aboe Dhabi-gholftoernooi, maar daar is ’n paar gróót name wat hoop om sy naweek te versuur.
Olesen het gister sewe voëltjies in ’n ronde van 67 – 5 houe minder as die baansyfer – aangeteken om met ’n voorsprong van ’n enkele hou op die Noord-Ier Gareth Maybin en die Italiaanse tienersensasie Matteo Manassero te gaan slaap.
Rory McIlroy en Robert Karlsson, wat aan die einde van die eerste ronde saam voor was, het teruggesak en is op 139 ná rondes van 72. Hulle deel die gesamentlike vierde plek met vyf ander spelers, wat Tiger Woods insluit.
Woods het sy 70 in die eerste ronde met ’n 69 opgevolg.
McIlroy het die dag stadig begin en drie houe oor die eerste drie putjies laat val. Die Noord-Ierse speler het met drie voëltjies daarvan herstel, maar het weer teruggesak toe hy op die negende putjie met twee houe gestraf is omdat hy, voor sy derde hou van net langs die setperk, sand weggevee het wat nie op die kort gras was nie. Dit het beteken dat hy ’n 6 pleks van syfer (4) aangeteken het.
McIlroy het gesê die fout was ’n kombinasie van ’n gebrek aan konsentrasie en sy onkunde oor die spesifieke reël. “En dis my eerste week terug,” het hy aan Sky Sports gesê.
“Luke (Donald) het gesê ‘Ek dink nie jy kan dit doen nie’, maar ek het my nie daaraan gesteur nie. Dit het al die goeie werk wat ek ná die slegte begin gedoen het, ongedaan gemaak, maar dis nou eers Vrydag.”
Woods, wat Donderdag uitstekend tussen die bof en die setperk was, maar niks met die setyster kon uitrig nie, het gister presies die teenoorgestelde lot gehad.
Die Amerikaner het minder as die helfte van die skoonvelde van die bof af gehaal en ’n paar keer gesukkel om op die setperk te kom, maar het net 28 keer geset.
Sy ronde van 69 het vyf voëltjies en twee brouhoue ingesluit.
Die beste van die Suid-Afrikaners is Charl Schwartzel, wat met sy tweede agtereenvolgende 70 nou 140 het, drie houe agter die voorlopers.
James Kingston het 141 en Thomas Aiken en Keith Horne 142.
Michiel Bothma, Jbe’ Kruger, die Suid-Afrikaanse Ope-kampioen, Hennie Otto en Branden Grace het die afsnypunt gemis, saam met die verdedigende kampioen, Martin Kaymer van Duitsland en die Skot Colin Montgomerie.
- Volksblad