Rock troef Woods
2012-01-29 21:31
JOHANNESBURG. – Die Engelsman Robert Rock het gister die breedste glimlag in Aboe Dhabi gehad nadat hy iets vermag het wat hy nooit gedink het hy sou nie: klaarspeel met Tiger Woods.
Rock het die Aboe Dhabi-gholftoernooi met ’n enkele hou gewen ondanks die brouhou waarmee hy sy laaste rondte (70) vir ’n toernooitelling van 275 afgesluit het.
Die Noord-Ier Rory McIlroy was tweede ná ’n 69, terwyl Woods (72) die derde plek met Graeme McDowell (68) en die Deen Thomas Björn (68) gedeel het. Hulle het met 277 geëindig.
Rock het in die laaste ronde saam met Woods gespeel nadat die duo saam voor was ná 54 putjies, maar het nooit voor die Amerikaanse legende se intimiderende teenwoordigheid geswig nie.
Inteendeel, dit was Woods wat die grootste foute begaan het. Ná ’n sethou van 15 meter vir voëltjie op die tweede putjie en ’n kaphou vir ’n arend wat enkele sentimeters van die derde blikkie geval het, het hy op die vierde bof skielik sy akkuraatheid verloor.
Dit het gelei tot twee agtereenvolgende brouhoue, en ’n geïrriteerdheid wat alles wat hy daarna gedoen het, versuur het. Die voormalige topspeler in die wêreld het die hele dag net ses setperke in regulasie-houe bereik.
McIlroy het die klubgebou-telling van -12 met ’n voëltjie op die agttiende putjie gestel, en dit wou lyk of dit goed genoeg vir ’n uitspeelstryd sou wees toe Rock se laaste bofhou reguit na die meer getrek het.
Dit het gelukkig vir hom kort van die water geval, maar tussen rotse en lang gras het hy geen ander keuse gehad as om ’n strafhou te neem nie.
Ondanks ’n kort naderhou het hy steeds die gerief van twee sethoue gehad en geen fout begaan nie.
“Ek kan nie glo ek het dit gedoen nie,” het Rock volgens die BBC erken. “Om saam met Tiger te speel was ’n groot eer. Aanvanklik was ek baie senuweeagtig daaroor, maar ek het ’n paar goeie houe geslaan en toe vir myself gesê: ‘Hoekom wen jy nie die ding nie’?”
Die oorwinning is Rock se tweede in Europa, en sal hom van nommer 117 op die wêreldranglys tot in die top-60 neem.
)Die Pretorianer George Coetzee (70) het in die sesde plek geëindig, drie houe agter Rock. Dis sy sewende top-10-uitslag in Europa in die laaste sewe maande. Keith Horne was ’n verdere hou terug ná ’n 69.
- Volksblad