Proteas onstuitbaar
2010-09-09 08:40
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die Suid-Afrikaanse netbalspan kan maar sy reëlings vir aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi in Singapoer begin tref nadat hy Botswana gister met 54-38 geklop het.
Die Proteas is een van ses spanne wat sedert Maandag aan ’n Wêreldbeker-kwalifiseringstoernooi in Mamelodi deelneem.
Die voorste twee spanne in dié toernooi kwalifiseer vir Singapoer.
Suid-Afrika is nou die enigste onoorwonne span in die toernooi nadat hy Botswana gister tot sy eerste nederlaag van die week verdoem het.
Daarmee het die tuisspan seker gemaak dat hy eerste in die toernooi sal eindig, met net een wedstryd oor.
Ná oortuigende oorwinnings in al vier hul groepwedstryde spog die Suid-Afrikaners met ’n yslike doelverskil van +157.
Botswana is tweede op die punteleer, maar het drie ligapunte minder en hul doelverskil is net 54 – 103 doele minder as dié van die Proteas.
Dit sal dus ’n wonderwerk verg om Suid-Afrika uit die boonste posisie te stamp.
Dit lyk daarby hoogs onwaarskynlik dat die Proteas hul laaste wedstryd, vandag teen Namibië, sal verloor.
Die Suidwesters is nie in hul bure se klas nie.
As daar vooraf enige twyfel hieroor was, het ’n nederlaag met nege doele teen die houtlepel-span, Zimbabwe, dit gistermiddag bevestig.
Ander uitslae gister: Botswana klop Tanzanië 57-26, Namibië klop Lesotho 47-21, Zimbabwe klop Namibië 42-33.
- Sport24