Nadal op oorlogspad
2010-09-09 07:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
New York. – Rafael Nadal het sy ongeskonde vertoningslys in vanjaar se Amerikaanse Ope-tennistoernooi in stand gehou deur sy Spaanse landgenoot, Feliciano Lopez met 6-3, 6-4, 6-4 in die vierde ronde te klop.
Dié top-gekeurde het nou in vier oorwinnings nog nie ’n stel afgestaan of sy afslaan ingeboet nie.
Nou wag nog een van sy landgenote, Fernando Verdasco, op hom in die kwarteindronde.
Nadal spog egter met 10 oorwinnings oor Verdasco en het nog nie teen hom verloor nie.
Verdasco het vier uur en 23 minute nodig gehad om nog ’n Spaanse landgenoot, David Ferrer, uit te skakel.
“Ek hoop hierdie wedstryd gaan my baie selfvertroue gee,” het die agtste gekeurde gesê.
“Ek hoop dat ek 100 persent reg kan wees ná so ’n uitmergelende wedstryd, want teen ’n speler soos Nadal is dit nodig dat jy 100 % fiks is om hom te pak,” sê Verdasco.
In nog ’n marathon-wedstryd is die laaste oorblywende Amerikaanse man uitgeskakel toe die Switser Stanislas Wawrinka Sam Querry met 7-6 (11/9), 6-7 (5/7), 7-5, 4-6, 6-4 tot oorgawe gedwing het.
Dit is nou die tweede jaar agtereenvolgens dat daar geen Amerikaner in die kwarteindronde is nie.
Toe dit verlede jaar gebeur het, was dit die eerste keer sedert 1968 dat geen Amerikaner die laaste agt van dié Ope gehaal het nie.
Met die 20ste gekeurde Wawrinka ook deur, is dit die eerste keer in die moderne era van manstennis dat twee Switsers – Wawrinka en Roger Federer – die kwarteindronde in ’n Grand Slam-toernooi bereik het.
Wawrinka se stryd het vier uur en 28 minute geduur.
“Die Amerikaanse toeskouers wou uiteraard hê hy (Querry) moes deurdring,” sê die Switser.
“Daar was nie veel tussen ons te kies nie. In elke stel het net enkele punte die verskil gemaak,” het Querry gesê.
Wawrinka speel nou teen die Rus Mikhail Youzhny, wat Tommy Robredo van Spanje met 7-5, 6-2, 4-6, 6-4 verslaan het.
Die 28-jarige Youzhny het in 2006 die halfeindronde gehaal toe hy onder meer Nadal geklop het.
- Sapa - AFP