Dis Novak teen Rafa
2012-01-27 22:21
MELBOURNE. – Die Australiese Ope het sy droom-eindstryd gekry: Novak Djokovic teen Rafael Nadal.
Djokovic, die verdedigende kampioen, het vyf stelle gespook om die Britse tennisspeler Andy Murray met 6-3, 3-6, 6-7 (4/7), 6-1, 7-5 uit te skakel in ’n herhaling van verlede jaar se eindstryd.
Die Serwiër het sy kans verspeel om die wedstryd te beklink toe hy op 5-3 in die beslissende stel afgeslaan het.
Ná vier uur en 50 minute het Djokovic sy eerste wedstrydpunt benut met Murray wat misluk het met ’n voorarmhou. Dit was toe reeds bykans 1 uur Saterdagoggend in Australië.
“Andy verdien die krediet dat hy teruggekom het vanaf 2-5. Ons het albei hard geveg om hierdie een te wen,” het Djokovic gesê.
“Dit was ’n baie fisieke kragmeting en een van die bestes waarin ek tot nog toe gespeel het. Emosioneel en geestelik was dit baie taai.”
Vir Murray, wat die afgelope twee jaar hier in die eindstryd verloor het, was dit ’n groot teleurstelling.
Djokovic het gesê hy het die afgelope jaar as speler baie volwasse geword . “Ek het begin glo ek kan groot toernooie wen.
“Rafa (Nadal) en Roger (Federer) het sake die afgelope sewe, agt jaar oorheers. Dit is moeilik om toernooie te wen wanneer hulle daar is. Jy moet dit verdien, hulle sal dit nie vir jou gee nie.”
Die Serwiër probeer nou om maar slegs die vyfde speler in die era van Opes te word wat drie agtereenvolgende Grand Slam-toernooie wen.
Die vier wat dit reeds reggekry het, is Rod Laver, Pete Sampras, Federer en Nadal.
Djokovic het met ’n stel en ’n deurbraak voorgeloop toe Murray begin terugveg het. Daarna het die Serwiër begin sukkel en het hy na sy neus gewys om aan te dui hy sukkel om asem te haal.
“Ek is verheug om in die eindstryd te wees,” het Djokovic gesê.
“Jy kry nie sommer ’n groter uitdaging om teen Rafa Nadal te speel nie. Hy is een van die beste spelers van alle tye. Ek moet net probeer om betyds te herstel voor die eindstryd. Dit gaan nóg ’n fisieke stryd wees.”
Vandag se vroue-eindstryd tussen Maria Sharapova en Victoria Azarenka is ’n stryd tussen die twee wat die grootste geraas op die baan maak.
Die wenner sal die nuwe nommer een ter wêreld wees.
Vir Azarenka is dit haar eerste verskyning in ’n Grand Slam-eindstryd, terwyl Sharapova die laaste van haar drie grotes in 2008 hier verower het.
- Sapa - AFP