Burger dra gholfkroon
2012-01-26 22:50
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BLOEMFONTEIN. – Hendrik Burger het die naweek op Bloemfontein se baan een van sy beste vertonings op die gholfbaan gelewer en die Vrystaat en Noord-Kaapland se geslote toernooi met drie houe gewen.
Burger het rondes van 70, 69 en 69 gespeel en ’n telling van 208 – agt houe beter as die baansyfer – op sy kaart ingevul.
Drie spelers – Dolf Kotzé, Terence Salo (albei van Bloemfontein) en Desné van den Berg van die Vaal de Grace-baan by Parys – was op 211 houe saam tweede.
Dean Burmester, wat as gas aan die toernooi deelgeneem het, het 206 houe gespeel. Sy 64 in die tweede ronde veral was baie goed.
Burmester het egter onlangs ’n beroepspeler geword en hoop om vanjaar sy merk in die Sonskynreeks te maak.
Verskeie uitblinkers in ander sportsoorte het ook deelgeneem. Johan van der Wath, Proteas-snelbouler van die Knights, het indruk gemaak met sy lang bofhoue. Hy was elfde met 214 houe – twee beter as syfer.
Burger Geldenhuys van Kroonstad, wat van 1981 tot 1989 vir Suid-Afrika rugby gespeel het, het 84, 88 en 88 aangeteken.
Johan Groenewald van Kuruman het die toernooi vir seniors met 227 houe gewen.
- Volksblad