Margit is dol op al haar rolle...
2012-02-17 22:15
DAARDIE misterieuse verhouding tussen akteurs en hul rolle is ter sprake wanneer Margit Meyer-Rödenbeck oor haar alter ego Dowwe Dolla praat.
Margit gesels in haar en haar man, Jurg Human, se huis in Proteavallei, Bellville, aan die soom van ’n landelike gebied. Die huis het die gevoel van ’n plaashuis.
Margit praat vinnig en met geesdrif. Sy lag dikwels en tref jou as iemand wat nie aan ’n ongesonde mate van selfkoestering ly nie. Die woord “sprankelend” som haar goed op.
“Kyk, Dolla is nie almal secup of tea nie. Glád nie! Die ironie is: haar grootste kritici is mense wat haar nóóit gesien het nie, wat sê sy is kommin, sy’s dom, sy weet nie waarvan sy praat nie.
“Die rigting waarin sy nou ná 15 jaar beweeg, is uit en uit politieke satire. Sy is huge. En sy is alles wat ek nie is nie. Dis heerlik om haar te speel, want sy is nie skaam nie... Sal ék nou in ’n nurse outfitrond-prance? Is jy bedonnerd?
“Definitief nie op 42 nie. Maar sy is nie ék nie. Sy is nie Margit nie. Ag, sy is eintlik ’namazing karakter om te hê. Ek sê mos altyd sy is die volwasse Liewe Heksie – met alle liefde en respek aan Verna (Vels, skepper van Liewe Heksie), want ek dink Verna se karakter is beautiful!
“Dolla is naïef en sy het chutzpah. Dis hoekom sy wegkom met alles. Sy beweeg in die rigting van stand up. Ek sê altyd om vir ’n uur Dolla stand upte doen is vir my soos om ’n fighter pilotte wees. Jy sit vir ’n uur in daai cockpit, want elke ou wat hier voor jou sit, kan enige oomblik met jou praat. Dis soos bomme wat kom, maar dis ’n héérlike adrenalien.
“Ek het al baie gedink om haar te laat gaan. Ek het haar destyds as een van my karakters geskep en op ’n stadium was ek gatvol vir haar. Ek het gedink: Genade, al wat mense sien as hulle vir my kyk, is Dolla en dan weet hulle nie eers wat Dolla is nie.”
’n Paar jaar gelede het sy vrede gemaak met Dolla.
“Ek het besluit ek like haar. Ek is nie skaam vir haar nie; sy is vir my lekker. Sy bring my op plekke waar ek nie andersins sou wees nie.”
In Junie begin die nuwe Dolla-vertoning: Dowwe Dolla Dink Diep. Jurg gaan die teks daarvoor skryf.
Margit het ’n honneursgraad in drama met lof behaal. Sy het haar in dié studie op kinderteater toegespits. Later het sy ook ’n meestersgraad in verhoogbestuur behaal.
“Ek is net mál oor kinders! Hulle is so eerlik. Ek sê altyd waar ek geleer het om stand up te doen is in kinderteater, want hulle praat heeltyd met jou. En hulle vertel vir jou goed en jy moet reageer daarop. Tot vandag is kinderteater vir my die lekkerste teater.”
Sy het al as speler, skrywer, regisseur en vervaardiger in dié genre gewerk. Vlooi en Liewe Heksieis van die gewildste produksies.
“Ek weet baie mense sien neer op kinderteater, maar dit is vir my heerlik. Daai kinders! Daai gesiggies! Ag, man, dis ongelooflik, jy wil hulle opvreet. Hulle lewe.
“Kinders is eerlik en reageer dadelik; veral daai size, van so twee en ’n half af – ek kan my nie uitspreek oor tieners nie. Ag, jy sien die lewe deur hulle oë.”
Ook regie lê haar na aan die hart. Sy het die regie gedoen vir ByeMa, Jaypee.
“Dis eintlik wat ek al die jare wou doen, maar nooit tyd voor gekry het nie. Ek is mal oor regie, want dit is prentjies maak en al jou sintuie skop in.
“Dis vir my frustrerend in die sin dat ek nie op die einde beheer het oor wat daar voor aangaan nie. Dis vir my meer senutergend as om self op ’n verhoog te staan. Maar dis ongelooflik om met talent te werk. Almal kom met hulle vaardighede. So, as jy op die regte bladsy met almal is, dan is dit heerlik om dit aanmekaar te sit.
“Maar ek gaan nie nou honderde plays directnie, want ek het nie tyd om dit te doen nie. Ek sal kies wat ek wil doen. En verder probeer ek balans hou. As jy Die Boer (haar en Jurg se teaterrestaurant in Durbanville) het en jy het Dolla en jy het plays om te directen jy het Vlooi en Liewe Heksie en my kind, wat my eerste prioriteit is... Sy isfabulous! Sy is vir my die lekkerste, lekkerste lekker van alles. En as ek moet kies, kies ek haar.”
Speelgoed in ’n aangrensende vertrek dui op Luca se teenwoordigheid, maar sy is vanoggend by haar kleuterskool, “anders sou ons nie nou kon praat nie,” aldus Margit.
Sy is baie optimisties oor die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf.
“Ek dink daar is baie, baie werk, maar in ons bedryf moet jy leer om self te skep. Daar is voordele aan. In die eerste plek doen jy dan regtig wat jy wil. In die tweede plek: Jy is in beheer en jy wag nie vir die telefoon om te lui nie. As ek moes gewag het vir die telefoon om te lui, het ek nou nog in my flat gesit en ge-waitress, want die telefoon het nog nooit gelui vir my nie.
“Nog nooit.”
Margit se stemtoon verander wanneer sy praat oor die tragi-komedie, K, waarin sy teenoor Trix Pienaar gespeel het.
“Dit was net toe my ma dood is. So, Hennie (van Greunen) het geskryf, maar baie van die goeters was very close to home. Dit was my eie woorde wat ek amper net gepraat het.
“Dis ’n pragtige stuk. Baie mense vra ons moet dit weer doen, maar ek weet nie of ek weer wil teruggaan soontoe nie. Dit was baie goeie terapie vir my. KenBye Ma, Jaypeeis healing teater. Die ouens wat daarin speel, word skoongemaak en die ou in die gehoor word skoongemaak.
“En... ja, dit was vir my goed. Dit het my elke aand teruggevat na daai plek toe. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie my ma mis nie. Sy is nou al tien jaar dood en ek mis haar nog net so baie. Sy het einde September van daardie jaar kanker gekry en hulle het gesê sy gaan nie Kersfees maak nie want dit is terminale buikkanker. En toe is sy dood die 11de Maart.”
Margit het baie tyd saam met haar deurgebring.
“Maar die begin van daardie jaar moes ek op die Groot Vyf-toer gaan saam met Steve (Hofmeyr) en Patricia (Lewis) en almal. Toe sê my ma: ‘Jy gaan nie langs my bed sit en wag dat ek doodgaan nie.’
“So toe is ek weg op daai toer. Ek het teruggekom en drie dae later is sy toe dood. Maar, met die toer het ek die laaste tien dae elke dag huis toe gevlieg. Ek het elke oggend sesuur ’n vlug gevat, agtuur geland, by my ma gaan sit en die middag vieruur weer teruggevlieg.”
Nou glimlag sy weer.
“Alexa (Strachan) het my met haar BMW-motorfiets kom haal om deur die Johannesburg-verkeer te vleg om betyds te wees vir dieshow.”
Haar ma was haar klankbord.
“As die kritiek gesê het ek is aaklig of as iemand my lelik... dan kon ek haar bel en dan sê sy drie woorde en dan is als oukei. Die laaste vyf jaar van haar lewe was sy absoluut myfavourite-mens.”
Margit mis die geselsprogramme wat sy by Punt-radio gehad het.
“Jy praat met één mens. Dis ’n vriend. So dis ontsettend intiem wat jy deel. En veral in die nag, die nag-showswas amazing... as daai donkerte sak... dis asof ons gemoed verander en ’n mens lig jou sluier. Mens praat oor dinge waaroor jy nie sommer in die dag op ’n radio sal praat nie.”
Sy onthou skielik iets wat een Vrydag in haar program Candid Radio gebeur het.
“Een vrou het gebel en gesê sy kan nie haar man bel nie, want hy het ’n beroerte gehad. Hy is in ’n ander kamer in die huis en sy gaan nou vir hom sê om daardie telefoon op te tel.”
Toe hy die telefoon optel, het sy teruggegaan na die ander telefoon en begin praat. Hy kon haar hoor en haar woorde is ook uitgesaai.
“Toe vertel sy vir hom hoe lief sy hom het en al is hy nie die man met wie sy getrou het nie omdat hy ’n beroerte gehad het, is sy steeds lief vir hom en dat sy altyd vir hom sal lief bly en hom nie wil verruil nie. Jy kon hom hoor asemhaal en geluide maak, maar hy kon nie praat nie.
“Ek was 29 en ek het niks gehad om te verloor nie. Dolla het dieselfde jaar begin as wat ek by Punt begin werk het, so dit was... ek was nog nie bekend nie; ek was nog eiewys en stupid; en ek het baie foute gemaak.
“Ek dink as ek nou weer so ’n program moet hê, gaan ek 50 uur moet voorberei vir een program uit vrees dat mense my gaan kritiseer. Dit was toe vir my makliker.”
- Volksblad