“EK sê nóú as ’n span van die Bloemfonteinse Valke en die Welkom-polisie en ek na Praia da Luz gaan, sál ons Maddie kry. As ons na Gert van Rooyen se slagoffers in Capitol Park (Pretoria) kan gaan soek, sál ons hulle kry.”
Die Opspoorder leun vorentoe. Praat afgemete sodat sy kenmerkende snor effens bewe.
Maddie is die Britse kleuter Madeleine McCann (4) wat in 2007 in ’n vakansieoord aan die Portugese kus verdwyn het.
Die soektog na Gert van Rooyen en Joey Haarhoff se vyf vermiste slagoffers is al sedert 1989 een van Suid-Afrika se onopgeloste misdaadraaisels.
Die Opspoorder is mnr. Danie Krügel van Bloemfontein, na wie die Britse The News of the World verwys as “The Locator”, vanweë “sy hoë suksespeil met die opsporing van vermiste mense in Suid-Afrika”.
Welkom-grumoord
Vandeesweek was Krügel prominent in Welkom met die opsporing van die vermiste liggaamsdele van die vermoorde Michael van Eck (24) wat die polisie by die tuiste van die verdagte paartjie, Maartens van der Merwe (24) en Chane van Heerden (20), opgespoor het.
Krügel kan nie onthou by hoeveel soektogte hy betrokke was nie. Daar was Rehana Kwena Moshoeshoe (16) van Kimberley; mnr. Jacobus van Rooyen in Ashburton, KwaZulu-Natal; Neladi Portia Ntbele van Brandfort (wie se lykie, luidens berigte, binne 30 minute sowat 1,2 km van haar ouma se huis in ’n doringbos gekry is) en die swanger me. Monya Holtzhausen van Estoire se verkragter in 2010. Laasgenoemde is in die Peter Swart-plakkerskamp opgespoor.
Hy baken die soekgebied af. Soms word die slagoffers gekry; soms nie.
Krügel (46) van Bloemfontein doen die opsporings met sy selfontwerpte opsporingstoestel wat deur die webtuistes van Carte Blanche en South African Sceptics onderskeidelik beskryf word as ’n “magnificent person-finding machine” en “the impossible machine”.
Krügel self benadruk dat vandeesweek se soektog ’n spanpoging was. Die opsporing van die grusame vonds het net weer vir hom bewys hoe goed Bloemfontein se Valke is.
Hy het sy masjiene met ’n bietjie hare van Van Eck gelaai en aan die werk gespring.
Krügel Theory Tester
“Daar’s hy doodgemaak, daar’s die begraafplaas, daar’s die lyk. Nou’s die soekgebied daar, het ek gesê. My hooflyn gaan basies bo-oor hul huis in Unicornstraat, maar dit was moeilik omdat hulle hul hande gewas en die bloed en van die goed in die drein afgespoel is.
“Toe ek oor die huis gaan, kom jy by die St. Helena-dam uit en dis deel van die gebied, hulle het ook hier met die verdagte se kar rondgery.
“Nou vat jy die hele Suid-Afrika, waar gaan soek jy? Nou sê ek vir hulle St. Helena, Bedelia, ons moet in lyn opgaan tot by die dam. Maar as ons in die stormwaterpype en riool opgaan, gaan ons nog stukkies weefsel kry.
“Só, ek plaas hulle in die gebied. Dis verskriklik moeilik, want die liggaam is nie daar om na te soek nie, dié moes ek uitskakel...
“Daar’s St. Helena, hier’s hul straat, hulle bly dáár, dáár bly hulle.”
Krügel gebruik die handmodel van sy gepatenteerde Krügel Theory Tester- (KTT) toestel op “tonele” om te wys hoe “die wetenskap” werk. Daar’s ander apparaat waarmee hy die opsporingswerk doen.
Jare lank het hy die presiese werking van sy opsporingsapparaat geheim gehou omdat dit “nog nie reg was nie”, sê hy.
Nóú wys Die Opspoorder die eerste keer (aan Volksblad) hoe dit werk. “Die ontdekking was ’n seën wat jare eintlik ’n kruis was, waarmee ek moes saamleef, dat hier dalk ’n groot ontdekking is, maar een wat ’n gevolg kan hê.”
Polisiediens
Krügel, ’n oudkolonel met 16 jaar diens in die polisie, praat in ’n sagte stem met beklemtonende sugte en stiltes. Oor wetenskap, tegnologie, misdaad en geloof. In kort sinne én lang paragrawe, soms onvoltooi.
Die nadeel van sy opsporingstoestel en -tegniek is die eenvoud daarvan, sê hy. Sy groot vrees was dat dit deur misdadigers gebruik kon word om te kyk of mense tuis is en om wapens op te spoor.
Nou’s die geheimhouding verby en kan “die regte mense, met die regte motiewe en op die regte vlak” sy uitvindsel wetenskaplik toets.
“Ek het geen probleem om dit (sy opsporingstoestel en -tegniek) oop te gooi nie. Dis goed as die waarheid in die lig van die vrugte daarvan geken word.
En as dit nie die waarheid is nie, moet dit geopenbaar word.”
Hy vra ’n haar van Volksblad se verslaggewer. Kry ’n gryse wat hy op die skandeerder van die “aktiveerder” sit.
Die data span hy dan vir ’n afsonderlike sensor in.
Sowaar – Krügel laat nie die sensornaald roer nie, maar toe ek my hand daaroor roer, beweeg die naald koorsagtig saam.
Skeptici
Volgens Acinonyxscepticus se “skeptiese webtuiste” maak Krügel daarop aanspraak dat die toestel werk met “compassionate quantum physics (a branch of physics no other scientist has heard of) and Global Positioning Satellites”.
“Baie maklik,” sê Krügel, “kom ek wys jou. Kyk ek het al die skeptici genooi om my te besoek, maar ek speel nie vir ’n gehoor nie. Dit gaan oor mense se lewe. Gee vir my die regte wetenskaplikes in die polisie se forensiese afdeling en in kankernavorsing en as hulle daarna sê...
“Die situasie is ons word gebombardeer, daar’s skelms. Onthou, ek het al hierdie opsporings gratis gedoen. Mense sien net toe dat ek op die toneel kom, maar ek het nog nie een sent gevra nie.
“Daar’s so baie kansvatters. Met die huidige wetenskap is dit ’n probleem om die goed te verstaan.”
Hy sê wysheid begin met die dien van die Here. “Ek glo die Here het hierdie soort tegnologie aan my geopenbaar deur jare se navorsing deur my as enkelpersoon, as ’n leek. Deur nagte se werk en deur die vlakte sonder deurbrake. Ek het heeltyd probeer beskerm hoe dit werk. Nou’s die tyd hier.”
Bediening
Krügel was in 1982 in die Hoërskool Diamantveld, Kimberley, in matriek. Einde daardie jaar het hy hom by die polisie aangesluit.
“Ek was in ’n tweestryd, want ek wou in die bediening ingaan. Toe besef ek as Christen kan ek al twee doen.”
In 1986 is hy Bloemfontein toe. Van 1989 af het hy betrokke geraak by ondersoeke na satanisties- en okkulties-verwante misdade.
“Ek wou hierdie mense net opsluit totdat ek met 12- en 13-jarige meisietjies begin werk het wat hulself gesny het dat die bloed loop.
“Toe besef ek dit is verlore mense. Hulle moet pa staan vir hul dade, maar as ek hulle vir Jesus kan bring, dat hulle die waarheid kan leer...
“Ek het die meeste suksesse gehad as ek die pad met hulle geloop het, want baie van hulle, en dis nie versagting vir hul misdaad nie, is gemolesteerdes. Daar’s haat. Só, mense raak betrokke by die okkulte uit weersin of haat en om te behoort.”
Welkom-moord
Hoe verskil die Welkom-grumoord van ander? “Ek het al te doen gekry met liggame waarvan die bloed uitgetap of die vet uit die boude gesny en kerse van mensvet daarvan gemaak is.
“Die absolute verskriklikheid hier is dat dit ’n beplande daad was. Die liggaam is vermink; liggaamsdele as trofeë bewaar; die persone het geslaap met die liggaamsdele minder as 3 m van hulle af en liggaamsdele is tussen al die voedsel in die yskas gekry.
“In die huis is ’n legio goed gekry wat op okkultiese praktyke dui. ’n Voedoe-pop, verskeie voorwerpe met pentagramme, asook ander simbole.
“Daar’s ook die manier hoe dit gedoen is, die toneel self en die hantering van dit wat hulle verwyder het. Al die leesstof wat die rooi ligte laat flikker... Ek wil nie die skrywer te na kom nie, maar daar’s pakke en pakke boeke van Stephen King.
“As jy na hulle kyk, ook toe hulle gevang is, en ek sien die individu, was miskien by die meisie onrusbarende goed sigbaar. Die swart naels, ringe en goed en snymerke aan haar arm.”
Satanisme
Is dit só dat Bloemfontein nie meer die “hoofstad van satanisme” is nie, maar dat Welkom nou die nuwe sentrum hiervoor is?
“Ek sou nie só sê nie. ’n Mens moet onderskei tussen geharde sataniste en mense wat eksperimenteer met die okkulte. Jong mense word gebombardeer deur inligting in boeke en rolprente en op televisie, waar iets soos die ouija board as normaal voorgestel word.
“Daar’s dus twee lyne. Tans is georkestreerde satanisme nie die grootste gevaar nie, maar individue in individuele groepe met ’n gemeenskaplike behoefte aan die bonatuurlike en hul behoefte word verder aangewakker deur navorsing op die internet.
“Alles is tot hul beskikking. Dan kry hulle obsessies – om iemand dood te maak; om bloed te drink en dis wat nou gebeur.”
Dit tref gewone kinders uit gewone gesinne en in gewone skole. Hoe moet daarvoor opgelet word?
“Dit gaan daaroor om ’n grondslag vir waardes by kinders te lê. Dis soos as jy ordentlik aangetrek, ’n vrou in ’n snyerspak en jy in ’n aandpak, by ’n vleisbraaivuur staan. Dan kom jy by ’n troue aan en hulle sê: “Sjoe, maar dis mooi klere,” maar as jy langs hulle gaan sit, sê hulle: “Sjoe, iets ruik sleg.” As jy jouself blootstel aan goed en sulke geselskap, gaan jy die uiterlike beeld hê, maar naby ruik dit sleg.
“Vir jong mense is die belangrikste om te weet dit wat sogenaamd koel is, kan jou na die hel toe lei.
“Ouers moenie dink as jou kind snaakse gedrogte, pentagramme, 666-tekens en onderstebo kruise teken dat hy of sy net kunssinnig is nie.
“Daar’s ’n fyn lyn tussen om die dam onder die eend uit te ruk, of nie. Maar ’n mens moet ook nie in die dam staan en jou blind hou nie.
“Moet nou ook nie histeries raak as ’n meisie net vir die dag swart naels dra nie.
“Moenie ’n kind brandmerk deur wat by hom is nie, nou-nou druk jy hom in ’n verkeerde rigting. Kry die feite, praat met ’n organisasie soos Auksano en verduidelik vir die kind hoekom iets verkeerd is en jy nie saamstem nie.”
Teorie en praktyk
Krügel weet van die webtuiste StopDanieKrugel.com wat in 2008 weens sy “onwetenskaplikheid” begin is. Ook word met verwysing na hom op South African Sceptics se webtuiste gesê: “It seems that the old adage about one man telling a lie and a hundred repeating it as truth receives another supporting instance here.”
Hieroor sê Krügel ’n teorie oor die wetenskap en oor ’n feëverhaal is vir hom in dieselfde kategorie, as dit nie deur ’n fisieke toets bewys kan word nie.
“Ek kan nie sê dit bestaan nie, maar ek laat nie ’n teorie toe om my denke te beïnvloed nie. Baie wetenskaplikes het nog nie goed ontdek nie, maar hulle haak so by teorieë vas...
“Ek wil hê, bou vir my ’n masjien, wat wys hoekom dit gebeur. Ek wil nie weet wat’s die teorie nie, ek wil weet hoekom gebeur iets.
“ ’n Teorie sonder ’n toets... Die fout wat ek gemaak het omdat ek nie ’n wetenskaplike is nie, is dat ek dadelik die wetenskap in die praktyk gaan gebruik het. Wetenskaplikes wil hê dit moet deur ’n klomp toetse gaan.
“As ek daai pen sien, begin ek te skryf. Later sal ek vasstel hoe dit skryf.”
*** Bel die Auksano-traumaterapie-sentrum by 051-422-5454