Die dokter wat jy langs jou bed wil hê
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Vicus Bürger
“EK kan dit nie verstaan as mense ’n teebreuk wil vat met ’n kliniek nog vol pasiënte nie. Jy kan mos eers afkry as die werk klaar is...” sê dr. André Loubser, trauma-chirurg en 2011 se Bloemfonteiner van die Jaar.
Hy is ongetroud en lewe vir sy werk en pasiënte.
Dit is maklik om ’n dag in die dokter se lewe te beskryf: Besoek die gimnasium, stort en werk.
Hy het jare gelede wel ’n tydjie afgeknyp om as platejoggie in die nagklub Reds in Bloemfontein musiek te maak.
Loubser is ’n uitgesproke man. Hy vat nie strooi nie – ’n ding is óf reg óf verkeerd.
Hy raak woedend as mense op hul selfone praat terwyl hulle bestuur en kinders in motors nie met veiligheidsgordels vasgemaak is nie. Hy sal so iemand sommer van die pad af dwing en met woorde afransel.
Hy trap hospitaalpersoneel uit as hulle nie hul werk reg doen nie.
Nie almal sal hom dalk na ’n vleisbraaiery nooi of saam met hom wil werk nie. Maar as jou lewe aan ’n draadjie hang, wil jy ’n dokter soos hy langs jou bed hê.
Hy wil nie eintlik oor homself praat nie. Eintlik glad nie.
“Ek dink nie die publiek vind my lewe interessant nie. Ek werk net.”
Loubser is in Kaapstad gebore en was in Klerksdorp in die hoërskool.
Hy wóú ’n dokter word. “Vandat ek vier jaar oud was...”
Loubser sê deesdae studeer te veel mense medies om die verkeerde redes.
Hy sê tans bestaan ’n komplekse keuringstelsel wat op raskwotas geskoei is en nie individuele persoonlikheid- en intelligensie-eienskappe nie. Gevolglik is daar mense wat medies studeer, maar nie vir die beroep uitgeknip is nie.
“Hulle dink aan hulself en wat hulle uit die beroep kan kry. Dit gaan nie meer oor die bydrae wat ’n mens aan die gemeenskap kan lewer nie.”
Loubser het vanaf 1980 tot 1985 aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein studeer.
Hierna het hy in hospitale op Ladysmith en in Pretoria en Johannesburg gewerk.
Nadat hy sy basiese weermagopleiding ondergaan het, het hy as ’n dokter vir die destydse reaksiemag gewerk.
Hy het in 1988 in die Grensoorlog by die Mpacha-weermagbasis in Namibië diens as ’n dokter gedoen.
“Dit was van die beste tye van my lewe,” sê hy en ’n glimlag kraak op sy gesig.
“Die olifante het tot in die kamp gekom en ons het in ’n rivier vol krokodille geswem.”
Hierna het hy by 2 Militêre Hospitaal in Kaapstad gaan werk.
In 1989 het die avontuurlus Loubser beetgepak.
Hy het ’n rugsak gepak en vir agt maande na Europa vertrek. Die hoogtepunt van die reis was toe hy in ’n matwinkel in Ürgüp in Turkye gewerk het.
Terug in Suid-Afrika het hy in die Victoria-hospitaal in Kaapstad gewerk voordat hy in Bloemfontein kom spesialiseer het.
In 1994 het hy sy eksamen afgelê en as ’n chirurg gekwalifiseer. ’n Jaar later het hy die hoof van Pelonomi se trauma-eenheid geword. Dit is onder sy leiding uitgebrei en vandag een van die bes toegeruste trauma-eenhede in die land.
Hy het vir ses jaar kinderchirurgie in die Universitas-hospitaal in die stad gedoen. Loubser het dit baie geniet.
In 1998 is ’n amptelike nieroorplantingsprogram by Universitas begin waarby Loubser betrokke geraak het.
Hy het Mediclinic Bloemfontein ook gehelp om ’n trauma-eenheid tot stand te bring en het tans ’n spreekkamer hier.
Vir ’n tydperk het hy ietwat van ’n dubbele lewe gelei.
Bedags was hy ’n gerespekteerde chirurg en saans het hy as ’n platejoggie in die omstrede rave-klub Reds in Bloemfontein opgetree.
Dit het só begin: In 1999 of 2000 het hy en van sy kollegas met ’n kind te doen gehad wat ná ’n motorongeluk breindood verklaar is. Die kind was ’n potensiële orgaanskenker en kon ander mense se lewe red, maar sy ouers het geweier dat sy liggaam “geskend” word.
Loubser het besef hulle sal kinders moet teiken in hul poging om die publiek meer bewus te maak van die belangrikheid van orgaanskenking.
“Sodat daar aan die etenstafel gepraat kan word oor die positiewe effek van orgaanskenking...”
Die dokter het ’n bewusmakingsveldtog by skole begin en leerlinge oor orgaanskenking ingelig.
Om die jeug te bereik, is ’n rave ook gehou.
Die destydse dekaan van die UV se mediese fakulteit het geweier dat die rave op die kampus gehou word. “Hulle het dit as onvanpas beskou.”
Dr. Susan Otto, destydse superintendent van die Universitas-hospitaal, het toestemming gegee dat dit in die saal van die verpleegstershuis plaasvind.
“Dit was ’n reuse-sukses.”
Die platejoggie wat toe opgetree het, Ian Visagie, het Loubser aangemoedig om ’n kursus aan die DJ-skool by Reds te voltooi. Ses maande later het hy sy platejoggie-eksamen afgelê.
Die bekende DJ Surge was sy eksaminator.
Hy het drie tot vier jaar in Reds, wat later ná ’n dwelmklopjag deur die polisie sy deure gesluit het, musiek gemaak.
Waar hy agter sy lessenaar in sy kantoor in Pelonomi sit, is daar nie ’n teken van moegheid op sy gesig nie.
Hy is ’n worsmasjien wat nooit tot ruste kom nie.
Sommige nagte as hy in ’n hospitaal werk, gaan hy nie eens huis toe nie.
“Ek verkies om by die hospitaal te bly indien ’n baie siek pasiënt in die intensiewe-eenheid is. Verder vereis die gradering van die trauma-eenheid ’n konsultant in die hospitaal vir 24 uur.”
Dis dalk hoekom hy nie getroud is nie.
“Dis moeilik om terselfdertyd 100% aandag aan jou werk én gesin te gee. Ek haal my hoed af vir my kollegas wat dit regkry.”
Mense se lewe is dikwels in Loubser se hande.
“Ek raak nie gespanne nie... net erg geïrriteerd indien ’n resussitasie nie volgens protokol verloop nie.”
Hy sê in ’n trauma-eenheid moet altyd genoeg voorraad wees. Dokters en verpleegsters moet met ywer werk en hul werk geniet.
“Die positiewe energie van paramedics beïndruk my altyd as hulle by ’n resussitasie betrokke is.”
Afgesien van sy werk in Bloemfontein-hospitale is hy ook betrokke by die ontwikkeling van trauma-eenhede in Afrika-lande.
Hy help die afgelope vyf jaar ook die Rashid-hospitaal in Doebai om sy traumastelsel reg te kry.
Loubser lewer ook dikwels lesings aan buitelandse universiteite.
As Bloemfonteiner van die Jaar is hy in die proses om ’n komitee te stig om die stad weer aantreklik te maak.
Hy wil onder meer fokus op die opknapping van parke in Bloemfontein.
“Mense in woonstelle en meenthuise het nie ’n plek om hul kinders na te bring nie.”
Volgens hom behoort die munisipaliteit Bloemfonteiners ’n aangename, skoon omgewing te gee.
Loubser sê die openbare gesondheidsektor in die Vrystaat het “gemaksugtig” geword.
“Besluitnemers neem nie meer eienaarskap van hul afdelings nie. Daar is ’n gebrek aan respek, veral onder junior personeel, vir die departement van gesonheid as werkgewer, pasiënte, toerusting en die omgewing waarin hulle werk.
“Dikwels word mense in posisies aangestel waarvoor hulle nie opgewasse is nie.”
Volgens hom leer senior personeel – veral in die verplegingsektor – nie hulself om met nuwe tegnologie te werk nie.
“Pelonomi se kliniese assistent- en huisdokterkorps werk dikwels in moeilike omstandighede en kry dikwels nie die erkenning wat hulle verdien nie.”
Hy sê ’n dramatiese verskil bestaan tussen die private en openbare gesondheidsektor wat die versorging van toerusting, geboue en tuine betref.
Als is ook nie net sleg nie.
Pelonomi se intensiewesorg- en radiologie-eenhede word ook uitgebrei en gaan volgens Loubser baie verbeter.
Hy sê Bloemfontein het die beste traumadiens in die land met die moderne trauma-eenhede van die hospitale Mediclinic, Rosepark en Pelonomi.
Loubser praat met lof van sy span by Pelonomi en Mediclinic. Hulle is toegewyde mense wat hard werk en nog werklik vir pasiënte omgee.
Loubser weier om te sê hoe oud hy is. “Ek is darem nog nie 50 nie.”
Dit maak nie saak wat sy ouderdom is nie; hy is nie ’n ou man nie.
Hy het tans geen stokperdjie nie, maar wil graag sy vlieglisensie hernu en Beaver-vliegtuie in Alaska gaan vlieg.
Dalk sal hy dit nog doen, maar hy sal kort voor lank maar weer terug in die hospitaal wees. Hy is verlief op sy werk.
Nadat hy teësinnig ingegee het dat daar ’n storie oor hom geskryf moet word, groet ons.
Ek sê ek gaan net gou iets eet en dan die artikel oor hom begin skryf.
Van agter sy lessenaar is sy groetwoorde: “Hoekom eet? Jou werk is dan nog nie klaar nie.”
- Volksblad