Vroue hou van bederf op Valentynsdag
2012-02-10 22:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Madelein Venter
VALENTYNSDAG is om die draai en of jy nou hou van die kommersiële sy van die dag van liefde of nie, dit bly ’n goeie idee om jou liefde op ’n tasbare manier uit te druk.
Vroue hou nou maar eenmaal daarvan om bederf te word en teenstrydig met wat sommige mans dink, vat dit nie veel om ’n vrou se hart tjoklits te laat klop nie. Dit is so eenvoudig soos ’n soetdingetjie, ’n lekkerruikdingetjie, ’n aantrek-ietsie of ’n vrolike bossie blomgesiggies. Enige kombinasie van die bostaande sal werk, hoe meer hoe beter natuurlik...
Maar glo dit of nie, dit is die idee wat tel, en die blote feit dat jy moeite gedoen het om vir jou geliefde (of daardie vreemdeling op wie jy ’n ogie het) te wys jy dink aan hulle, is genoeg om enige hart te vermurwe.
Maak net seker jy kies die regte geskenk. Dit is byvoorbeeld nie van pas om onderklere aan iemand te stuur op wie jy in die geheim ’n ogie het nie. Net so moet jy enige kombuisgereedskap (veral kookboeke) vermy as jy vir jou vrou ’n geskenk uitsoek. As jy jou hand aan klere (of onderklere) wil waag, maak doodseker jy weet watter grootte klere jou geliefde dra. Dit kan nogal ’n demper op verrigtinge plaas as jy vir haar ’n uitrusting een of twee groottes groter koop...
Kontak my gerus met enige vrae, voorstelle en kommentaar by mode@volksblad.com.