Wag ’n donker jaar op plase?
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Lize du Plessis
EN daar het hy gelê. Twee minute gelede was hy nog piekfyn en nou is hy pers. Haal nie asem nie. Yskoud.
Paramedici kom help, die ambulans kom haal hom en neem hom na die Rosepark-hospitaal.
Almal is dankbaar dat die hulp so vinnig gekom het en sy lewe gered is, want die plaas is ongeveer 70km buite Bloemfontein. Die Here het ingegryp – die regte mense was daar om te help.
Die volgende dag loop ek na Hestertjie en Mannetjie se makoek om vir haar te sê die oubaas het ’n heart attack gehad en hy is nou in die hospitaal in Bloemfontein. “Ai, my hart word seer as jy dit sê. Groet die oubaas en sê hy moet vinnig huis toe kom.” Mannetjie sê later hy weet my ma se hart is seer, sy hart is ook seer.
Egpare word op hul plase aangeval, doodgeskiet, die vrou word selfs verkrag. Ons skrik nie eers meer as die koerant se voorblad dit uitbasuin nie. “Boer koelbloedig op plaas vermoor.”
Nog ’n plaasmoord, nog ’n statistiek.
Mannetjie het al vir my pa gesê hy sal hom oppas totdat hy nie meer leef nie. “En as die oubaas eerste gaan, sal ons mooi vir die mie kyk. Ek is lief vir oubaas, die mie, kleinbaas en die kleinnooi.”
Naïef? Miskien, dalk.
Mnr. Henk van de Graaf, ’n adjunkhoofbestuurder van die landbou-organisasie TLU SA, het vroeër vandeesweek gesê as die eerste maand van die jaar as aanduiding gebruik word, gaan 2012 ’n donker jaar vir plaasmoordstatistieke wees. Boere se moermeters is rooi, het Agri SA gesê.
Mag ek vanaand rustig slaap, want ek weet Mannetjie en Hester is lief vir hul oubaas en mie?
Mag ek glo hulle is veilig en Mannetjie en Hester sal my ouers beskerm?
Hul dogtertjie, Khimpo, word voor my ma se oë groot. Oulike dingetjie, die Khimpo. Sy speel met die honde en glimlag as sy my ma sien (waarskynlik omdat my ma in dié stadium sinoniem met lekkers is, maar dit daar gelaat).
Ek slaap sag, want ek glo my ouers sal nie deel van die statistieke word nie. Mannetjie sal dit nie toelaat nie.
Naïef? Miskien. Maar wanneer het dit verkeerd geword om in die mensdom te glo?
“My hart word seer as jy dit sê. Groet die oubaas.”
Daar is nóg Mannetjies en Hesters daarbuite. Daar is nog liefde, ongeag kleur en geslag.
- Volksblad