’n Nuwe soort politiek nodig
2011-11-15 22:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
‘Die Politiek van Beplanning” was die titel van een van my gunsteling-kursusse as nagraadse student.
Die oogmerk was om toekomstige onderwysbeplanners te oortuig beplanning is nie net ’n tegniese funksie nie, maar ’n politieke onderneming. Dus: Die ontwikkeling van nasionale planne met duidelike oogmerke en voldoende hulpbronne was belangrik, maar nie genoeg nie.
Iets genaamd politiek kon die bes ontwerpte planne van ’n regering kortwiek.
Politiek kan goed of sleg wees. Die mobilisering van mense ter ondersteuning van regeringsplanne vir geletterdheid, byvoorbeeld, is die soort politiek wat plaaslike gemeenskappe kan inspireer tot hul eie aktiewe kennisverwerwing. Maar in Suid-Afrika is ’n verwerplike, destruktiewe soort politiek alte bekend.
Dit is die politiek wat swart en wit, vreemdeling en landsburger, radikale en liberale, teen mekaar uitspeel. Die soort politiek wat gewones verneder deur hulle sover te kry om te stem en hulle dan vyf jaar lank te ignoreer. Dié politiek verseker dat die maghebbers, die verhewe enkeles, stinkryk word, terwyl die ander in armoede vasgevang bly.
Ek het aan my lesings oor “Die Politiek van Beplanning” gedink terwyl ek geluister het na Trevor Manuel se baie gesofistikeerde visie en nasionale plan vir Suid-Afrika, vir bereiking in 2030. Niemand kan fout vind met die Nasionale Beplanningskommissie (NBK) se ontleding, of metsy aanbevelings nie. Dié verslae vergestalt die beste vrugte van politieke denke en skryfwerk in ’n lang tyd van owerheidsweë. Die skreiende leemte in die verslag is die irritasie genaamd politiek.
Neem die onaanvegbare waarneming van die NBK dat vakbond- en politieke inmenging in skole tot ’n einde moet kom.
Presies hoe gaan dit gebeur?
Ons het ’n verpolitiseerde skoolstelsel waarin onderwysers in die Oos-Kaap hulle regmaak om te staak net mooi wanneer die mees benadeelde kinders daar hul matriekeksamen aflê. Dus: In ’n provinsie met van die swakste matriekuitslae, beduiwel die vakbonde die lewensmoontlikhede van miljoene kinders.
Die fout wat die NBK begaan, is dieselfde as baie postkoloniale Afrika-regerings s’n. Dit is om te veronderstel dat die aankondiging van ’n beleidsideaal gelyk is aan die verwesenliking daarvan.
Wat in die beplanningsverslag ontbreek, om my op my klasaantekeninge te beroep, is ’n aksie-teorie. Anders gestel: Presies hoe gaan ons daar uitkom?
Dit is waar sinisme neig om die oorhand te kry by dié van ons wat die politiek van en verwikkelinge in Afrika oor dekades heen dopgehou het. Ons hoor 2030, en weet ons minister en kommissarisse sal dandaarmee heen wees. Dié vindingryke verslag sal lank vergete wees.
Die begraafplaas van postkoloniale Afrika-regerings is met nasionale ontwikkelingsplanne besaai.
Tog moet ons nie te sinies wees nie.
Die doelstelling dat 80% van ons kinders 12 jaar skoolopleiding moet ondergaan, of dat hoër-onderwys-opleiding moet styg van 950 000 (17%) tot 1 620 000 (30%) van die ouderdomskohort, is navolgenswaardig. Die oogmerk dat 80% van die skole en leerlinge 50% en meer moet behaal in geletterdheid, wiskunde en wetenskap in grade 3, 6 en 9, klink haalbaar.
Maar ’n nuwe soort politiek is daarvoor nodig – nie bloot ’n nuwe ekonomie nie. Ons sal voor 2030 ’n regering nodig hê met ’n ferm greep op openbare skole, wat gesag oor skole van die vakbonde terugneem, wat kinders van politici en amptenare net in staatskole laat skoolgaan, wat onderwysers se vakkennis toets, en wat daarop aandring dat elke onderwyser daagliks onderwys gee, of die gevolge dra.
Dit sal aansienlik meer verg as knypsessies met jong mense om dié soort politiek in ons land te bewerkstellig.
- Volksblad