Wat huis ’n tuiste maak
2010-07-29 00:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Jan en Sonet Bosman se kinders is reeds opgeskote, groot en indrukwekkende tieners wat selfvertroue en vasberadenheid uitstraal.
Dis vroegoggend op die Bosmans se plaas, en die kinders is op pad na hul hoërskool in Douglas in die landelike Noord-Kaap.
Maar voordat die matriekseun en sy suster vertrek, volg hulle ’n gebruik wat ek eerlikwaar gedink het lankal verdwyn het.
Voordat hulle vertrek na die bakkie wat hulle skool toe sal bring, stap hulle na hul ouers en soen hulle om die beurt.
Ek is getuie van ’n innige en onvergeetlike oomblik; op Afrikaans word dit ’n soengroet genoem.
Die soengroet is ’n kragtige demonstrasie van die band tussen ouers en hul kinders wat deesdae in baie min Suid-Afrikaanse gesinne voorkom.
In die gesprek wat op hierdie betekenisvolle handeling volg, word allerlei verduidelikings aan my oorgedra.
Die kinders kan ná hul vertrek in ’n motorongeluk beland en nooit weer hul ouers sien nie; met die soengroet het hulle ten minste behoorlik van mekaar afskeid geneem.
Aan die ander kant is die soengroet ’n teken van respek, van die feit dat die kinders steeds na hul ouers opsien.
Met hierdie handeling bevestig die kinders dié erkenning aan hul ouers.
Natuurlik het ons almal kleintyd ons ouers gesoen voordat ons afgesit het skool toe.
Maar heel gou hou ons op om dit te doen omdat ons weet dat ons vriende ons dophou en omdat ons ons onafhanklikheid wil wys namate ons ouer word.
In sommige gesinskulture word hierdie simboliese skeiding tussen ouer en kind begryp, en word kinders wat ophou om hul ouers te soengroet wanneer hulle die huis verlaat of na die huis terugkeer, nie berispe nie.
Tog het die Bosmans se kosbare gesinsgewoonte my aan die dink gesit.
Dalk kan kinders se toenemende oneerbiedigheid teenoor hul ouers gedeeltelik toegeskryf word aan die feit dat in diesulkes se gesinne nie meer sprake van ’n soengroet is nie.
Met die verlies van fisieke aanraking dryf kinders weg van ouerlike gesag en kwyn die respek vir hul ouers.
Ek sien dikwels hoe kinders in die openbaar in woedebuie op hul ouers skreeu.
Dis ondenkbaar dat so iets sou gebeur het indien die soengroet steeds ’n werklikheid was.
Volgens ’n goeie vriend maak die soengroet dit vir ouers moontlik om hul kinders te dissiplineer sonder dat vrees hoegenaamd ter sprake is.
’n Kind wat gestraf word, weet dat die tugoptrede nie liefdeloos is nie.
Hy besef die fisieke pyn van ’n pak slae is maar net een kant van die balansstaat van kinders grootmaak.
’n Kind wat haar ouers slegs ken as toornige grootmense wat pyn veroorsaak, sal self kwaai word.
Maar die soengroet is ’n herinnering aan die hoeksteen van liefde wat enige vorm van dissipline ten grondslag lê.
Dit is natuurlik nie die aanraking van menselippe wat betekenisvol van ’n soengroet is nie.
Dis die handeling van fisieke en emosionele verbondenheid wat saak maak.
Danksy die onstuitbare Amerikaanse kultuur, wat media soos die televisie oorspoel, gebruik Suid-Afrikaners al hoe meer ’n ander soort soengroet:
Die beerdruk.
Haas geen Amerikaanse fliek oor gesinne eindig sonder versoening en die grootse beerdruk nie.
Maar die soengroet is spesiaal en intiemer, ’n ware Suid-Afrikaanse tradisie onder sommige van ons gesinne.
Ons sou natuurlik allerlei verklarings kon bedink vir die afskaffing van die soengroet.
Jy kan kieme versprei, byvoorbeeld wanneer jy verkoue is of griep het, of selfs ’n ernstiger kwaal.
Hiervan sê ’n ingeligte vriend, wat self in ’n soengroet-kultuur grootgeword het:
“Ons het altyd gesê: ‘Dis ten minste familiekieme.’”
Ek veronderstel dat die Bosman-kinders – namate hulle grootword, self ouers word en selfs oud word – steeds hul ouers sal soengroet.
Dis die fisieke band en blywende respek wat sulke gesinne in beproewende en voorspoedige tye bymekaarhou.
Dit is wat van ’n huis ’n tuiste maak.
Dit is wat gebroke huise van hegte gesinne onderskei.
- Prof. Jansen is rektor van die Universiteit van die Vrystaat.
- Volksblad