Uitdaging vir waardestelsel
2010-11-03 22:38
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die vier studente wat in die klein vertrek op my gewag het, het baie anders gelyk as die tipiese student wat ek op universiteitskampusse teëkom. Hier op ons kampus in die Oos-Vrystaat gaan dit besonder moeilik.
Erge armoede kom voor, en in die omliggende omgewing is die druk op welsynsdienste ontsaglik. Feitlik elke student op dié kampus studeer met geldelike bystand van verskillende aard. Baie van hulle is in die steek gelaat deur die wanfunksionering van arm, landelike skole. Tog het hulle die wilskrag en geld bymekaargeskraap om universiteit toe te gaan.
Hoekom het hierdie vier eerstejaarstudente so anders gelyk? Hoekom het hulle so uitgelate gelag? Hoekom was hulle so geesdriftig? Wat het hulle van hul mede-studente onderskei? Hulle was deel van ’n groep van 71 eerstejaars wat pas teruggekeer het van ’n drie maande lange besoek aan top-universiteite aan die Amerikaanse ooskus. Maar naas die klaarblyklike opgewondenheid oor die kort studietyd in die buiteland sou ek iets taamlik dramaties ontdek in die lewensveranderende ervarings van dié jong mense.
Ek het die kernvraag gestel: “Wat is die een ding in jou buitelandse ervaring wat jou verander het?” Hulle was almal gretig om te praat, en wat ek in die volgende 20minute gehoor het, was die aangrypendste verhaal van veranderde lewens wat ek in ’n baie lang tyd gehoor het.
Die eerste student het die ander voorgespring met ’n verbysterende bekentenis: “Professor, in my gemeenskap het ek geleer om gays en lesbiërs te verafsku. Maar by die Universiteit van New York is dié kwessies openhartig bespreek en het ek agtergekom hoe bevooroordeeld ek is jeens mense met ’n ander seksuele oriëntasie as my eie. Ek is skaam oor die gevoelens wat ek teenoor ander mense gehad het.”
Ek het nie verwag dat die terugvoer só innig, só eerlik en só persoonlik sou wees nie.
Die volgende student het tussenbeide gekom, en dié keer het ek byna van my stoel afgeval. “Professor, ek het tuis gekom en vir my gesin gesê ons moet verander, nie alle blankes is slegte mense nie en ons moet hulle respekteer.”
Nie een student van wie ek weet, onthul so iets vrywillig en openlik nie, veral nie in ons ras-sensitiewe en -behepte gemeenskap nie. In die harde wêreld van ’n arm landelike gebied kon dié student maklik met haar rassegriewe op die mou loop, maar sy is op ’n merkwaardige manier verander.
Sy het vertel hoe haar wit verblyfouers in die VSA haar soos ’n eie dogter behandel het; hoe hulle al die moontlike gedoen het om haar, ’n jong vroulike student van die Universiteit van die Vrystaat, gekoesterd te laat voel; en hoe hulle gehuil het op die dag van haar vertrek en terugkeer na Suid-Afrika.
Dié ervaring van saamleef met en gekoester word deur ’n blanke gesin het hierdie jong student se beskouing oor blankes in haar eie land vir altyd verander.
Die derde student kon beswaarlik wag om sy verhaal te vertel.
“Ek het gedink die enigste manier om jou probleme en bekommernisse te lug is om te baklei, eise te stel en te worstel. Maar ek het gesien die studente daar benut hul tyd deur te dink, te redeneer en hul beskouings te slyp deur redelike en logiese denke.”
Ek het stilweg geglimlag en gewonder hoe hierdie student bejeën sou word in ’n nasionale kultuur wat glo in afbreek en vernietiging eerder as in die formulering van kragtige argumente. Dink net hoe universiteitskulture sou verander indien daar tienduisende studente soos hierdie jong man was.
Ek is oortuig een van die hoofredes vir die talle probleme op ons kampusse is die onkunde onder ons studente oor enige ander gedragsmodel as dié wat hulle onder hul eie portuurgroepe waarneem. Rassisme, homofobie en die begeerte om te vernietig spruit uit dit wat hulle in hul geboorteland waarneem. Wat hulle sien, word die nuwe maatstaf, en ons almal ly daaronder.
Wat hierdie studente verander het, is dat hulle losgebreek het uit hul isolasie in Suid-Afrika.
Hulle het ander “norme en waardes” as rigsnoer vir studente- en gemeenskapsgedrag waargeneem. Hulle het vir die eerste keer agtergekom dat daar ’n beter grondslag is om mens, landsburger en student te wees.
En die uitwerking wat ’n drie maande lange studietyd oorsee op die lewe van 71 studenteleiers gehad het, kan nooit in rand en sent bereken word nie.
Ek weet dit is totaal onbekostigbaar, maar dit sou ideaal gewees het indien elke Suid-Afrikaanse student ’n top-universiteit in die buiteland kon besoek. Dit sou die dikwels bekrompe, konserwatiewe en selfvernietigende gedrag van die Suid-Afrikaanse jeug verander het.
Dit sou ook ’n uitdaging wees vir ’n waardestelsel in die onderwys wat erg aan die verkrummel is.
- Volksblad